Nuwe Grensoorlogpublikasie wys ALLES!

Skrywer Louis Lubbe volg sy uiters gewilde Grensoorlogpublikasie Van Ovamboland tot Masjonaland, waarin die betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse Polisie in dié oorlog onder die loep kom, nou op met nog ’n indrukwekkende publikasie oor die oorloë waaroor niemand wil praat nie. Die fotoboek From Cunene to Cabo Delgado bevat nagenoeg 500 foto’s. Elke aspek van die oorloë wat oor ’n tydperk van 28 jaar in Suidwes-Afrika, Angola, Rhodesië en Mosambiek gewoed het, word op ’n treffende en soms selfs skokkende wyse ten toon gestel.

Vir die samestelling van hierdie boek het Lubbe ongeveer 16 000 foto’s deurgesoek uit persoonlike versamelings van oudsoldate, joernaliste, oorlogskorrespondente en enigiemand anders wat op die regte oomblik gereed was om foto’s van die oorloë en die mense te neem.

From Cunene to Cabo Delgado is ingedeel volgens die onderskeie streke waar die oorloë plaasgevind het, naamlik die Portugese koloniale oorloë in Angola en Mosambiek; die Rhodesiese Bosoorlog; en die Suid-Afrikaanse Grensoorlog wat hoofsaaklik in Suidwes-Afrika afgespeel het. Die boek bevat ook ’n hoofstuk met waardevolle statistiek oor die sterftes wat in elkeen van hierdie konflikte opgeteken is sowel as ’n afdeling oor die herontplooiing van Suid-Afrikaanse troepe. Elkeen van die oorloë word boonop ingelei deur ’n opsomming van die belangrikste gebeure wat tot die konflik gelei het, noemenswaardige gebeure tydens die oorloë en die uiteindelike beëindiging daarvan.

From Cunene to Cabo Delgado is nou beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R360.

Klik hier om jou eksemplaar deur Kraal Uitgewers se e-winkel te koop.

One thought on “Nuwe Grensoorlogpublikasie wys ALLES!

  1. Pingback: Nuwe Grensoorlogpublikasie wys ALLES! - Wêreldwyd

Comments are closed.