Nuwe reeks geskiedenispublikasies sien die lig

Nuwe reeks geskiedenispublikasies sien die lig

Kraal Uitgewers, die uitgewersmaatskappy van die Solidariteit Beweging, het begin met ’n opwindende nuwe reeks, wat hy die Kraal Histories-reeks noem. “Met hierdie reeks wil ons die beste meestersverhandelinge en doktorale proefskrifte wat in Afrikaans geskryf is en om een of ander rede nie ’n uitgewer gekry het nie, publiseer. Dit gaan dus oor werke wat lig werp op interessante aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, wat goed en objektief geskryf is en wat lekker lees”, verduidelik prof. Fransjohan Pretorius, redakteur van dié nuwe reeks.

Op ’n manier (maar nie heeltemal nie) vervang dit die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, wat meer as twee dekades gelede ná bykans sestig jaar ten einde geloop het. Dit was ’n toonvenster van die beste navorsingsuitsette van meesters- en doktorsgrade in geskiedenis.

Die gedagte is om ’n wye reeks onderwerpe te dek. Tans is ’n tydperk soos die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 baie gewild. “En aangesien ons graag erkenning wil gee aan die Afrikanervrou in die geskiedenis, het ons pas as eerste boek in die reeks die M.A.-verhandeling van Zelda Rowan gepubliseer,” luidens Pretorius. Die titel daarvan is Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923.

 

Nonnie – die ystervrou van Lichtenburg

Nonnie de la Rey word waarskynlik deur die meeste mense onthou bloot as die vrou van generaal Koos de la Rey. Hoewel Nonnie se lewe nie dieselfde populariteit in hoofstroommedia geniet as dié van verskeie van haar manlike tydgenote nie, is haar verhaal een wat spreek van deursettingsvermoë en ’n uitsonderlike sterk karakter wat die uitdagings van die dag te bowe gekom het.

Haar en haar kinders se swerfjare gedurende die Anglo-Boereoorlog om uit die kloue van die Britse soldate te bly, getuig van ’n dapper persoon waarvan haar optrede in vele opsigte selfs die heldedade van die slagvelde kan oorskadu.

Maar wie was hierdie vrou? En waarom het Kraal Uitgewers (die uitgewersmaatskappy van die Solidariteit Beweging) besluit om ’n boek juis oor haar lewe die lig te laat sien?

Die skrywer en navorser, Zelda Rowan, se passie vir kultuurgeskiedenis het tot dié unieke werk gelei. Haar M.A.-verhandeling oor Nonnie se lewe is as basis vir dié nuwe publikasie gebruik en met die steun van die bekende historikus, prof. Fransjohan Pretorius, as redakteur het Zelda daarin geslaag om ’n deernisvolle biografie oor dié besondere vrou daar te stel. Dié boek, met die titel Nonnie: ’n Pioniersdogter uit die Lichtenburg-distrik, is in Augustus vanjaar by Kraal Uitgewers gepubliseer as die eerste in die uitgewer se nuwe Kraal Histories-reeks. (Pretorius tree as redakteur vir die reeks op.)

Vir Rowan was die besluit om haar navorsing op dié pioniersdogter van die Lichtenburg-distrik te laat fokus, ’n weldeurdagte een. “Ek wou graag op die verhaal van ’n vrou fokus, maar dit kon nie net enige vrou wees nie. Dit moes iemand wees wat ’n besondere verhaal het en van wie daar genoeg primêre bronne soos dagboeke, briewe en foto’s sou wees,” verduidelik Rowan. Danksy Nonnie se eie herinneringsgeskrifte (gepubliseer en ongepubliseer) is daar nog ’n skatkis van inligting beskikbaar en kon Rowan die geskiedenis van Nonnie se lewe, soos ’n legkaart stukkie vir stukkie, herbou.

Nonnie se lewensverhaal is ten nouste aan die Lichtenburg-omgewing verbind (die dorp is byvoorbeeld deur haar pa, H.A. Greeff, gestig en vernoem na die plaas waarop hy in die Durbanville-distrik grootgeword het). Haar grootwordjare saam met haar ouers, haar lewe as jong vrou en moeder sowel as haar oorlog- én na-oorlogse jare is grotendeels in dié geharde landskap deurgebring. Dit is egter veral Nonnie se tyd gedurende die tweede helfte van die oorlog wat opspraakwekkend is. Gedurende dié tyd het sy met haar kinders in die veld geleef om sodoende die konsentrasiekampe te vermy. “Tydens die laaste 18 maande van die oorlog het Nonnie saam met haar kinders en ’n paar getroue bediendes in die veld rondgeswerf. Dié periode van haar lewe lees amper soos ’n avontuurverhaal,” sê Rowan.

Dit is ook gedurende die oorlogsjare wat Nonnie kennis maak met waarskynlik haar man se grootste vyand, Lord Methuen, en waartydens sy haar seun Adaan aan die dood moes afstaan. Latere ervarings wat tot die unieke tapisserie van Nonnie se lewe bydra is haar en haar man se besoek aan Europa in 1902 en die heropbou van hul geliefde plaas Elandsfontein, buite Lichtenburg, nadat dit as deel van die verskroeideaardebeleid in die oorlog verwoes is.

Volgens Rowan is die eienskappe wat die sterkste in Nonnie na vore kom, eienskappe wat steeds in die hedendaagse Afrikaner-vrou merkbaar is. “In my opinie moet mens daarteen waak om te veralgemeen, maar ek reken wel dat die elemente van innerlike krag en deursettingsvermoë ook temas van ons tyd is. Ek vermoed dat dit juis hierdie temas is waarby Afrikaners sal aanklank vind.”

Nonnie: ’n Pioniersdogter uit die Lichtenburg-distrik is ’n Kraal Uitgewers-publikasie en kos R220 (posgeld uitgesluit). Vir meer inligting of om jou bestelling te plaas, besoek www.kraaluitgewers.co.za of skakel die uitgewer gedurende kantoorure by 012 644 4329.

Kraal Uitgewers sal vanaf 15 Desember 2017 tot 8 Januarie 2018 gesluit wees. Dismiss

AfriVriendelik-opleiding

You have Successfully Subscribed!