“O, moedertaal, o, soetste taal, jou het ek lief bo alles …”

Vandag, bykans 90 jaar sedert Afrikaans deur die amptelike taalwet as amptelike taal van Suid-Afrika erken is, kan daar met reg nog gesê word dit is “die soetste taal”. Vandag nog pluk ons die vrugte van die taalstryders wat destyds moeite gedoen het om ons taal te ontwikkel, te bewaar en te vestig. Vandag word die taal ernstig bedreig, maar dit gee ons die geleentheid om te veg vir ʼn taal wat, hoewel dit oorspronklik as ʼn blote kombuistaal bestempel is, steeds op die hoogste vlakke van ons land gebruik kan word.

Afrikaans word beskou as een van die jongste tale in die wêreld en word tans deur nagenoeg 6,4 miljoen mense wêreldwyd as eerste taal gepraat. Dié taal wat hoofsaaklik uit Nederlands ontstaan het, het natuurlik ook verskeie ander invloede gehad wat dit uiteindelik tot die juweel gevorm het wat ons vandag ken.

Die bekende en geliefde digter, C.J. Langenhoven (wat onder meer verantwoordelik was vir die skryf van Die Stem – wat later as die volkslied van Suid-Afrika aanvaar is), moet ook deels die eer ontvang vir sy werk wat tot die vestiging van Afrikaans as amptelike taal gelei het.

Langenhoven word deur vele beskou as die vader van Afrikaans en as ʼn meesterlike skrywer, digter en joernalis. Langenhoven was ʼn kampvegter vir Afrikaans as eerste taal in skole en dit was uiteindelik ook danksy sy invloed dat Afrikaans as amptelike taal in die parlement en as amptelike landstaal erken is.

Cornelius Jacob Langenhoven, wat later as die skrywer CJ Langenhoven en ook as Sagmoedige Neelsie bekend sou staan, se rol in die vestiging van Afrikaans is merkwaardig.

Hy is in 1873 in Ladismith in die Kaapprovinsie gebore. As jongman wou hy oorspronklik teologie studeer maar besluit later om hom eerder in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch te bekwaam. Hoewel hy oorspronklik as prokureur praktiseer, wend hy hom later tot die joernalistiek en word uiteindelik redakteur van die koerant, Het Zuid-Westen. Dit is juis in die joernalistiek waar Langenhoven hom met ywer wy aan die vestiging van Afrikaans. Langenhoven was ook die stigter van die Afrikaanse koerant, Die Burger, wat vandag nog bestaan.

Teen 1914 word Langenhoven lid van die parlement waar hy die stryd vir Afrikaans voortsit.

In Langenhoven se woorde lê ook die geheim van sy liefde vir Afrikaans opgesluit. Hy het gesê: “Om ons een taal tot nut te gebruik is ʼn groter kuns as om sewe vreemdes by te leer.”  En dit is juis wat hy gedoen en geleef het. Danksy sy liefde is daar vandag nog talle juwele vir die Afrikaanse taal wat uit sy pen ontstaan het.

Na ʼn leeftyd van skaaf aan ʼn taal wat ons vandag nog met trots kan praat, sterf Langenhoven uiteindelik op 15 Julie 1932 in Oudtshoorn. Vandag is sy tuiste Arbeidsgenot – waar hy en sy vrou vir nagenoeg 50 jaar gewoon het – ʼn museum.

Die museum bied ’n blik op die leeftyd van die vader van Afrikaans. Die huis is ʼn nasionale gedenkwaardigheid. Volgens die museum se webwerf kan besoekers kom beleef waar Langenhoven talle van sy bekende werke geskryf het. Die museum is Maandae tot Vrydae vanaf 09:30 tot 17:00 oop vir die publiek. Doen moeite om hier in die Klein-Karoo in die voetspore van die vader van Afrikaans te kom stap.