Ons (steeds) vir jou, Suid-Afrika!

Deur Ilze Nieuwoudt 

Die woorde “Ons vir jou, Suid-Afrika” het ’n tuiste in die harte van derduisende Suid-Afrikaners. Nie net is dit die woorde wat jaarliks op 16 Desember in die Voortrekkermonument in Pretoria verlig word nie, maar dit is ook die kernboodskap van ’n lied wat vandag nog met net soveel ywer en liefde gesing word as waarmee dit meer as 100 jaar gelede geskryf is.  

’n Monumentale oomblik

Dit is vanjaar reeds 71 jaar sedert hierdie kollossale monument sy deure amptelik onder die gedreun van duisende stemme geopen het. “Ons vir jou Suid-Afrika,” druis die woorde van Afrikaners op 16 Desember 1949 en elke jaar daarna word hierdie woorde steeds verlig met ’n sonstraal uit die hemelruim wat presies om 12:00 deur ’n opening in die dak skyn.

Die opening van die Voortrekkermonument in 1949 word gereken as die grootste Afrikanerfees ooit. Die monument is as ’n plek van aanbidding beskou en dit is juis ook in hierdie gees waarin daar feesgevier is. Vier dae lank is gedank en feesgevier totdat die amptelike opening uiteindelik op 16 Desember deur die destydse eerste minister, dr. D.F. Malan, waargeneem is. Nagenoeg ’n kwartmiljoen mense was teenwoordig toe die deure geopen is.

Die fees het uit vele fasette bestaan. Een van die treffendste was sekerlik die oorhandiging van die ossewa. J.E. Reeler, stigterslid van die ATKV, het in ’n roerende toespraak die waarde van die ossewa beklemtoon. Hy hou vol dat die ossewa die simbool van die Afrikaner is wat as ’n nasie met krag en moed vorentoe moet beur. Volgens Reeler was die ossewa nie net die familiewoning en wa vir die Voortrekkers nie, maar dit spreek ook van die gesinslewe. Dit kan dus gesien word as die hoeksteen van die voortbestaan van die Afrikaner. Die boodskap wat die ossewa oordra is “vorentoe, steeds vorentoe” en simboliseer sodoende dat daar geen stilstand onder Afrikaners moet wees nie.

Ook Jan Smuts het na die vooruitgang van die Afrikaner verwys met die woorde “ons is ’n toekomsvolk”. Hy het die woorde van Paul Kruger se laaste boodskap aangehaal en gesê: “Ons moet in die verlede soek wat goed en skoon is, om die ideaal daarna te vorm en vir die toekoms te verwesenlik.”

Die Voortrekkermonument met sy sterk simboliek het in die verlede al onder kritiek deurgeloop, maar vir dié wat die onwrikbare geloof met hul Voortrekkervoorouers deel, besef dat die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” inderwaarheid moet wees “Ons nog steeds vir jou Suid-Afrika.”

Die meester agter die woorde

Hoewel “Die Stem van Suid-Afrika” eers in 1957 as die volkslied aanvaar is, gaan die lied se oorsprong baie verder terug – bykans 40 jaar vroeër om presies te wees. “Die Stem” is reeds in 1918 deur die Afrikaanse skrywer C.J. Langenhoven geskryf.

Volgens die kenner Eduan Grobbelaar wat ’n doktorale studie oor onder meer “Die Stem” gedoen het, is ’n volkslied ’n relatiewe nuwe verskynsel wat eintlik eers in die 1820’s begin posvat het.

In ’n artikel wat in 1991 in Beeld verskyn het, verduidelik Grobbelaar die Afrikaner se strewe na ’n volkslied soos volg: “Kort ná die Groot Trek het die strewe na ’n eie volkslied vir Suid-Afrika ontstaan, maar dit was eers met die onafhanklikwording van Transvaal in 1852, die Oranje-Vrystaat in 1854 en met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl dat daadwerklike pogings aangewend is om ’n eie volkslied in Afrikaans vir Suid-Afrika te verkry.”

Hoewel verskeie protes- en volksliedere die lig gesien het, was daar steeds nie ’n werkbare volkslied vir Suid-Afrika nie. Die laaste strooi vir die Boere was toe die Britte se “God save the Queen” ná die Anglo-Boereoorlog as die enigste amptelike volkslied ingestel is.

Liedere wat hierna ontstaan het was onder meer C.E. Viljoen se “Zuid-Afrika, ons dierbaar land”, C.P. Hoogenhout se “Volkslied voor’t verenigd Zuid-Afrika”, Jan F.E. Celliers se “Unielied” en ook Nico Hofmeyr se “Afrikaners, landgenote”. Maar, beklemtoon Grobbelaar, dit was uiteindelik eers Langenhoven se woorde wat mense van Suid-Afrika werklik geraak het.

Dit was ’n moeilike era vir die Afrikaner en die onderdrukking het tot ’n nasionale bewuswording en nasietrots gelei. Die gedig is in die dagblad Die Burger gepubliseer en dadelik is ’n nasie aangegryp. Hoewel Langenhoven self ook die gedig getoonset het, is die weergawe wat ons vandag ken, uiteindelik deur M.L. de Villiers getoonset.

Volgens Grobbelaar is die lied met die De Villiers-toonsetting die eerste keer in die Groote Kerk in Kaapstad op 12 November 1924 uitgevoer. In die jare wat hierop gevolg het, is dit telkens nieamptelik tydens staatsgeleenthede gebruik.

Sedert Langenhoven die kragtige woorde van “Die Stem van Suid-Afrika” op papier vasgevang het, word mense steeds deur die eerlike skoonheid van die gedig geraak –’n gedig wat op sigself as ’n waardige monument deel van die Afrikaner se kultuur en erfenis bewaar en gekoester moet word.