Ontdek dié gebeure in Spioenmeesters

Wanneer daar oor spioene gepraat word, dink ’n mens onwillekeurig aan die Hollywood-weergawe van spioene waarin manne soos James Bond op sy charismatiese manier te werk gaan; skote wat heen en weer klap en die held wat die een na die ander waaghalsige truuk uit die mou pluk. Dit is dikwels ver verwyderd van die werklikheid. Inteendeel, die werklikheid het telkens minder glorie as rolprente, maar die verhale is in baie gevalle meer opspraakwekkend én ongelooflik as die spioenasieverhale waaroor fiksieboeke geskryf word.

Die intelligensiekundige Henning van Aswegen vertel in sy nuwe boek, Spioenmeesters: Vriende, vyande en verraaiers van die 20ste eeu, die ware verhale van 18 spioenasiegevallestudies wat ’n direkte of indirekte invloed op Suid-Afrika se geskiedenis gehad het.

Dié gevallestudies strek vanaf die Anglo-Boereoorlog tot kort vóór die 1994-verkiesing. Verskeie geheime van spioenasie en teenspioenasie wat gedurende die Anglo-Boereoorlog en die wêreldoorloë plaasgevind en ’n hoogtepunt tydens die Koue Oorlog bereik het, word onthul. Die lewe van Fritz Duquesne, Hendrik van den Bergh, Johannes van der Walt en die meesterspioen Richard Sorge word ondersoek.  

Spioenmeesters ondersoek ook opspraakwekkende intelligensie-gebeure wat tydens Suid-Afrika se stormagtige 1960’s en 1970’s afgespeel en onder meer tot die klopjag op Liliesleaf gelei het. Die gebeure rakende Operasie Vula, die ANC-komplot wat amper die onderhandelinge van die 1990’s in die wiele gery het, word ook nagespoor.

Was Dieter Gerhardt, ’n kommodoor in die Suid-Afrikaanse Vloot en ’n agent van ’n Russiese intelligensiediens, ’n held of ’n verraaier? Wie was die Russiese KGB-spioen wat ’n bietjie Afrikaans kon praat? En hoe het Gerard Ludi daarin geslaag om die SAKP te infiltreer? Dié en tientalle ander vrae word in Spioenmeesters beantwoord.

Spioenmeesters: Vriende, vyande en verraaiers van die 20ste eeu verskyn later vandeesmaand by Kraal Uitgewers.