Ontdek die ware Koos de la Rey

Hy staan bekend as die Leeu van die Wes-Transvaal, die held van Magersfontein, die man van legendes – Koos de la Rey. Daar is al oor hom geskryf, gesing en bespiegel. Hy word dikwels vir sy heldedade op die slagvelde van die Anglo-Boereoorlog onthou, maar wie was dié man eintlik? In sy boek De la Rey: ‘n Stryd vir vryheid (beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R300 – posgeld uitgesluit) onthul geskiedkundige Andries Raath die ware De la Rey. Ná die oorlog het De la Rey, met die hulp van sy sekretaris, sy herinneringe tot en met September 1901 opgeteken. Sy voortydige afsterwe in 1914 het beteken dat hy nooit self sy eie verhaal kon klaar skryf nie. Raath se in-diepte navorsing en De la Rey se persoonlike herinneringe wat reeds opgeteken was, bied egter in De la Rey: ‘n Stryd vir vryheid die betroubaarste weergawe oor die lewe van dié legendariese eggenoot, kryger en held.

Een van die roerendste oomblikke in dié generaal se lewe was waarskynlik die dood van sy 19 jarige seun Adaan nadat hy op 28 November 1899 noodlottig in die Slag van Tweeriviere (ook bekend as die Slag van Modderrivier) gewond is. In De la Rey: ‘n Stryd vir Vryheid word dié gebeure in detail beskryf soos dit kort na die oorlog deur De la Rey self opgeteken is. Klik hier om dié verhaal te lees.

Uittreksel De la Rey: ‘n Stryd vir Vryheid deur A.W.G. Raath oor die gebeure tydens die Slag van Modderrivier, p. 206-207:

“My grofgeskut was dié dag bykans alles stukkend geskiet. My kanonperde is dié dag ook byna almal doodgeskiet, sodat ek dié aand nie meer as twee perde vir elke kanon gehad het nie. Ek moes van die artilleriste gebruik om die kanonne te trek. Ek kon ook sien dat die troepe heeltemal uitgeput was. Gedurende die dag was die geveg vreeslik. Ek was self verwonderd dat die burgers dié dag so deurgestaan het. Ek het slegs ses kanonne en bommaxims by my gehad, terwyl lord Methuen ses of sewe batterye gehad het.

In die loop van die dag het ek my gewondes laat deurbring na ʼn huis wat tussen die riviere gestaan het. Ongeveer twee-uur die dag is ek deur ʼn bomskerf in my regterskouer getref. My seun het die hele tyd by my gebly, terwyl ek op-en-af langs die gevegsterrein beweeg het om die burgers aan te moedig. Die aand met sonsondergang is my seun deur ʼn bomkoeël dodelik in die sy getref. Ek het hom na ʼn stil plek geneem en daar neergelê aangesien ek nie onmiddellik na hom kon omsien nie, totdat my kommando’s die aand teruggetrek het. Nadat ek al my burgers onttrek het, het ek gegaan om my seun te haal. Omdat ek geen ambulans kon kry en geen rytuig by my gehad het nie, was ek verplig om my seun na Jacobsdal te dra, ʼn afstand van nege myl . . . ek het toe maar voortgegaan na die hospitaal te Jacobsdal waar ek die môre met dagbreek aangekom het . . . ongeveer een uur na my aankoms te Jacobsdal is my seun aan sy wond oorlede. Ek het die dag daar oorgebly om hom te begrawe.”

(Volgens die Britse skrywer, Amery, was die dood van sy seun Adaan die enkele gebeurtenis was De la Rey finaal tot die militêre stryd teen Brittanje verbind het.)

De la Rey: Stryd vir Vryheid is die derde boek in Kraal Uitgewers se gewilde Erwe van ons vaad’re-reeks. Publikasies in dié reeks word waarlik as versamelaarsitems beskou en die hoë gehalte papier, bindwerk en omslag getuig van ʼn boek wat bedoel is om van geslag tot geslag oorgedra te word. Kry jou eie eksemplaar vandag nog teen die weggeeprys van slegs R300. Klik hier om dié boek te bestel.