Staar jy dikwels met KRAAL-ogies na boeke?
Voel jy soms soos die agteros wat net wag om in die KRAAL te kom?
Dan is KRAAL UITGEWERS jou kuierplek!

so reg in jou kraal


Kraal Uitgewers is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en die tuiste van Afrikaanse niefiksie, Afrikanergeskiedenis én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het tydens die 100 jaar-herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 ontstaan en aanvanklik gefokus op die publikasie van versamelaarsboeke oor dié oorlog.

Die uitgewer het intussen by die Solidariteit Beweging-kraal ingeskakel. Dit doen moeite om instellings in die Beweging te ondersteun met die uitgee van hoëgehaltepublikasies oor sake van belang vir die onderskeie organisasies; om ’n gebalanseerde weergawe van die Suid-Afrikaanse geskiedenis (in die besonder van Afrikanergeskiedenis) te bied; en om Afrikaans leesbaar, leefbaar en lieflik te maak met prettige, slim en unieke Afrikaanse produkte.

Geskiedenispublikasies sowel as boeke oor aktuele onderwerpe, soos plaasmoorde en regstellende aksie, vorm die kern van Kraal se eie publikasies. Die uitgewer bemark ook ’n wye reeks boeke én produkte namens ander kleiner uitgewers of selfpubliseerders. Bordspeletjies, kalenders, koffiebekers én T-hemde vorm reeds deel van die produkte wat deur Kraal Uitgewers en ander instellings of individue ontwikkel word. Dit alles dra by om ’n liefde vir Afrikaans te kweek en dit te laat floreer.

Komaan! Kom kuier ook saam op Kraal Uitgewers se Facebook-blad. Daaglikse geskiedenisbrokkies herinner vriende aan die groot, skokkende, triomfantlike, tragiese en legendariese gebeure in die Suid-Afrikaanse verlede, terwyl ons ook Afrikaans se woordskatte (her)ontdek, ou foto’s afstof en ander opwindende boekenuus deel. Word ’n vriend van Kraal Uitgewers en sorg dat jy nie die agteros in die KRAAL is nie! Sien jou daar. Kom gesels saam!

Wie is in die Kraal?

Alana Bailey
Uitvoerende hoof

Alana Bailey is uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers sowel as adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. Sy het ʼn passie vir lees en boeke en het ʼn meestersgraad in historiese en erfenisstudies.

Hannelie du Preez
Grafiese ontwerper en sosiale media-beampte

Voordat Hannelie in 2015 by Kraal Uitgewers begin werk het, het sy as uitlegkunstenaar by onder meer CUM en Impak Onderwys gewerk. Vandag leef sy haar kunssinnige sy uit as grafiese ontwerper en uitlegkunstenaar van Kraal Uitgewers. Haar lewensfilosofie is: “Die kapasiteit om te leer is ʼn gawe, die vermoë om te leer is ʼn vaardigheid en die bereidwilligheid om te leer is ʼn keuse.”

Luan van Schalkwyk
Bemarking- en administratiewe beampte

Luan het in 2015 by Kraal Uitgewers aangesluit as die bemarking- en administratiewe beampte en was voorheen betrokke by die bemarking van sporttoerusting. Hy hanteer hoofsaaklik alle skakeling met en bemarking aan boekwinkels landwyd sowel as direkte Kraal-kliënte. In die Kraal-span is Luan die enigste haan onder die henne en hierdie boer maak altyd ʼn plan, want hy glo waar daar ʼn wil is, is daar altyd ʼn weg.

Ilze Nieuwoudt
Publikasiebestuurder

Ilze glo die woorde uit Jopie Fourie se brief aan die Afrikaner wat hy in die ure voor sy dood in 1914 geskryf het, is vandag nog net so relevant en is haar lewensfilosofie: “Wees getrou tot die dood. Wees getrou aan jou tradisies, aan jou volk en aan jou taal.” Sy werk sedert 2007 in die Solidariteit Beweging en meer spesifiek vanaf 2012 by Kraal Uitgewers.

Karin Heydenrych
Taalpraktisyn

Karin het in 2017 as taalpraktisyn by die Kraal Uitgewers-span aangesluit. Sy het jare lange ervaring in die kommunikasiebedryf in die staat- sowel as die akademiese sektor waar sy as joernalis, skakelbeampte en taalpraktisyn werksaam was. Karin is passievol oor die dinamiek van taal en glo aan lewenslange leer.

Janette Lombard
Administratiewe beampte ( halfdag)

Janette is die nuutste skapie in die kraal en het einde 2019 by die Kraal Uitgewers-span aangesluit as Administratiewe Beampte. As die hoof kontak met ons kliënte en verskaffers, is sy die vriendelike gesig (en stem) wat Kraal na buite verteenwoordig, maar ook die een wat dinge in die agtergrond seepglad laat verloop.