P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier

’n Huldigingsbundel oor die man wat waarlik net ’n pagter hier was en ’n tyd lank aan Afrikaans geleen is, P.G. du Plessis, is in Junie 2019 bekend gestel as deel van ’n huldigingsreeks oor Hertzogpryswenners. Du Plessis was ’n veelsydige skrywer en is in 1972 met die Hertzogprys vereer vir sy dramas Die nag van Legio en Siener in die suburbs. P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier verskyn twee jaar ná Du Plessis se dood en bevat biografiese inligting oor dié skrywer se kinder- en jongmensdae sowel as ’n eksklusiewe onderhoud wat deur die redakteur, Heilna du Plooy, met hom gevoer is kort vóór sy dood. Sy vriend, die skrywer en akademikus Hans du Plessis, lewer ook ’n waardevolle bydrae in dié bundel. ’n Uittreksel uit P.G. du Plessis se laaste roman, wat teen sy dood nog nie voltooi was nie, is ook in dié bundel ingesluit.

Hoewel P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier verskeie akademiese artikels oor die lewe en werk van Du Plessis bevat, word die inhoud tog op ’n toeganklike manier aangebied.   

Du Plessis se skryfwerk – waaronder verskeie dramas, draaiboeke, kortverhale, rubrieke en romans – het sedert die laat-1960’s Suid-Afrikaanse teatergangers en lesers laat regop sit. In 1969 debuteer hy met die drama Die nag van Legio. Verskeie ander bekroonde dramas sou hierop volg, waaronder Siener in die suburbs en ’n Seder val in Waterkloof in onderskeidelik 1971 en 1977. In die 1980’s breek ’n vrugbare periode as kortverhaalskrywer vir Du Plessis aan en in dié tyd verskyn onder meer sy gewilde Koöperasie-stories. Hiermee het Du Plessis ’n nóg dieper plek in die harte van lesers én kykers van die latere televisiereeks losgeskryf. Dit sou uiteindelik sy meesterstuk, Fees van die ongenooides (2008), wees wat waarskynlik sy grootste nalatenskap sou word.

P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier is die tweede boek in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks van Hertzogpryswenners. Hiermee word hulde gebring aan die literêre kunstenaars wat oor dekades Afrikaans en Afrikaanse letterkunde met hul werk verryk het. Die boek is hier as deel van ‘n pakket beskikbaar en sluit die volgende bundels in wat intussen in dié reeks verskyn het: Adam Small: Denker, digter, dramaturg; Pieter Fourie: Teatermaker; breyten breytenbach: woordenaar, woordnar; en Johann de Lange 60: ’n Huldiging.


Gepubliseer: Junie 2019

ISBN: 978-1-920188-54-2

Kategorieë: Boeke/ Niefiksie/ Letterkunde/ Biografie

Spesifikasies: Portret; 220 mm x 150 mm; sagteband; 360 bladsye

Redakteur: Heilna du Plooy

Skrywers: 

Uitgewer: Litera Publikasies

Reeks: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Hertzogpryswenners-huldigingsreeks

Genre: Niefiksie