Perdemonumente: Ter ere aan jou vriend

In vandag se dae is dit moeilik om jou in te dink wat ʼn perd ʼn eeu of wat gelede werklik werd was, maar vir die Boerekryger gedurende die Anglo-Boereoorlog was ʼn perd van byna onskatbare waarde.

Dit is juis van ʼn perd dat die Boere-held Generaal Koos de la Rey gesê het: “Sonder ʼn perd beteken ʼn boer as krygsman niks. Dikwels het ons hulle te voet laat veg, maar sonder enige sukses. As ʼn Boer dus ʼn perd verloor, het dit beteken dat daar een man verlore was en elke perd wat ons van die vyand afgeneem het, was weer een Boer meer op slagveld.”

Dit is dus hieruit duidelik dat die Boer van die laat 1800’s en vroeë 1900’s byna verlore was sonder sy vriend – die perd.

Dit is juis ter ere van die waardevolle diens wat perde gedurende die Anglo-Boereoorlog gelewer het dat daar in die vroeë 1900’s besluit is om ʼn perdemonument op te rig. Die monument staan vandag nog reg buite die St. George’s Krieketstadion in Port Elizabeth. Daar is blykbaar op dié stad besluit aangesien talle van die perde wat gedurende dié tyd na die land gebring is, hier ingevoer is.

Dié perdemonument in Port Elizabeth is een van slegs vier monumente ter wêreld wat ter ere aan die perd opgerig is. Die ander is geleë in Argentinië, Brittanje en by die Weston Landbou-kollege buite Mooirivier in Natal.

Die standbeeld vertoon die sentimentele toneel van ʼn soldaat wat kniel by sy perd om hom uit ʼn emmer te laat water drink. Die monument is in 1905 deur Joseph Whitehead ontwerp.

Die woorde op die monument spreek ook van die mens se innige liefde vir sy perd. Vertaal lees die woorde “Die grootheid van ʼn nasie berus nie soveel op die aantal inwoners of hoe groot sy gebied is nie, maar eerder op die omvang en geregtigheid van sy meegevoel.”

Volgens oorlewering is duisende perde in die Anglo-Boereoorlog dood – sommige bronne meen dat daar tot soveel as 500 000 perde in die tyd dood is.

Die perdemonument in Port Elizabeth kan op die hoek van Russel- en Kaapweg gesien word.

Feit of fiksie – perdemonumente?

As jy volgende keer ʼn monument met ʼn ruiter en ʼn perd sien, kyk of jy dalk die waarheid in ‘n ou oorlewering kan vind. Hiervolgens is die manier waarop ʼn perd staan, ʼn aanduiding van hoe die ruiter gesterf het. Bronne is dit egter nie eens oor die waarheid van die stelling nie, maar dit is dalk goed om volgende keer hierna op te let as jy ʼn perdemonument besoek. Volgens die oorlewering is die betrokke ruiter tydens geveg dood as die perd met beide pote in die lug staan. As een van die perd se pote in die lug is, beteken dit dat die persoon later gesterf het weens sy wonde of in die geveg gewond is. Maar as die perd met al vier pote op die grond staan, is die ruiter eers later aan natuurlike oorsake dood.

So of jy die perdemonument besoek of volgende keer met insig oplet na die beeld van ʼn perd – onthou dat hierdie diere  ʼn waardige plek in ons geskiedenis verdien.