Pierneef: ’n ‘Onkonvensionele’ legende in die Suid-Afrikaanse kunswêreld

Deur Inge Verwey

Wanneer jy enige gesoute kunskenner vra om van die land se mees prominente kunstenaars van die 20ste eeu op te noem, behoort die naam Jacob Hendrik Pierneef op te duik. Hendrik Pierneef, soms ook Jacob, Pier of Henk genoem, word wêreldwyd as die eerste groot Suid-Afrikaanse skilder geëer.

Pierneef is hoofsaaklik bekend vir die unieke styl waarmee hy die Suid-Afrikaanse landskap geskilder het. Hierdie styl, wat as ’n modernistiese en geometriese styl beskou word, het die Suid-Afrikaanse kunswêreld van die 20ste eeu omgekeer. Hierdie skilderye was aanvanklik nie goed ontvang nie, maar vandag word dit as van Suid-Afrika se mees gesogte kuns beskou.

Pierneef het as kind reeds ’n aanvoeling vir kuns gehad en op vyftien het hy kunsonderrig by ’n argitek in Hilversum, Nederland ontvang. Hy was later ook ’n leerling aan die Akademie vir Beeldende Kunste in Rotterdam.

As jong man het Pierneef deeltyds geskilder terwyl hy onder meer by ’n tabakwinkel in Pretoria gewerk het. Ná sy eerste eenmanuitstalling in 1913 kry hy genoeg selfvertroue om meer gereeld uit te stal en ses jaar later besluit hy om hom voltyds op kuns toe te spits.

Tydens ’n besoek aan Europa in 1925 het Pierneef met moderne en impressionistiese kuns kennis gemaak. Hierdie Europese kunsstrominge het neerslag gevind in sy werk en hy het ook met onkonvensionele tegnieke en style begin eksperimenteer, soos die geometriese en divisionistiese styl wat hy met sy skildery Studie in Blou toegepas het. Suid-Afrika het in daardie stadium nie aanklank gevind by dié nuwe kunsvorm nie en Pierneef se loopbaan het gevolglik daaronder gely.

Die krisistyd waarin sy loopbaan was, was egter van korte duur. In die jare dertig het Pierneef 32 muurskilderye vir die Johannesburgse stasie en sewe muurskilderye vir  Suid-Afrika Huis in Londen gemaak. Die kunswerke, wat hoofsaaklik Suid-Afrikaanse natuurtonele en geskiedkundige plekke uitbeeld, is goed ontvang. Sy loopbaan was daarna weer goed op dreef tot en met sy dood in Oktober 1957.

Vandag word 347 van Pierneef se skilderye en sy persoonlike besittings in die Pierneef-museum in die Leendert te Groen-gebou in Vermeulenstraat, Pretoria bewaar. Dit is ietwat ironies dat die ‘andersoortigheid’ van sy kuns, wat eens teen hom getel het, ook later van hom ’n legende gemaak het.