Pokke: Die skokkende pandemie uit SA se verlede

Ilze Nieuwoudt 

Terwyl die wêreld sedert Maart vanjaar grootliks tot stilstand geruk is deur die Covid-19-pandemie, het mense ook na die verlede en vorige pandemies gekyk vir antwoorde oor hoe die krisis hanteer kan word. Die voorste geskiedeniskenner van epidemies in Suid-Afrika, prof. Howard Phillips, het in ’n lesingsreeks wat in 2012 by die Universiteit van Kaapstad aangebied is, dié dikwels onbekende geskiedenis onder die vergrootglas geplaas. Sy boek Plague, pox and pandemics: A Jacana pocket history of epidemics in South Africa (2012) ondersoek ook dié geskiedenis en die impak daarvan op die gemeenskappe waarin dit gewoed het.

Pokke was die eerste pandemie om Suid-Afrika te tref. Toe dit in Februarie 1713 aan boord van ’n vloot skepe op hul roete van die Ooste die Kaap bereik het, is die slawevroue wat skepe se vuil linne (waarop die siekte oorgedra is) moes was, eerste getref. Kort voor lank het pokke soos ’n veldbrand onder die Kaapse gemeenskap versprei. Die Kaapse setlaars en veral die slawe- en Khoi-bevolking in en om die Kaap het geen immuniteit teen die siekte gehad nie en is daarom veral erg getref.

Wat is pokke?

Pokke klink vandag soos iets uit wetenskapsfiksie, maar in die 1700’s was dit ’n angswekkende werklikheid. Hoë koors en hoofpyne was die eerste simptome van dié siekte. Dit is gevolg deur ’n veluitslag wat binne twee dae in ettergevulde blase verander het. In talle gevalle het slagoffers binne sewe tot tien dae gesterf. Dié wat oorleef, sou sowat ses weke neem om te herstel (waartydens die persoon steeds aansteeklik was) en dikwels erge littekens oorhou, terwyl talle blind en onvrugbaar gelaat is.

Pokke slaan keer op keer toe

Hoewel die eerste pokke-uitbraak die Kaap reeds in 1713 getref het, was dit een van vele uitbrake wat in die komende dekades sou volg. Vóór die ontwikkeling van ’n pokke-inenting sou die Kaap ook in 1755 en 1767 uitbrake beleef. Veral die twee latere uitbrake was nie net beperk tot die Kaap nie, maar het selfs tot anderkant die Oranjerivier en in die destydse Transkei versprei. Die ontwikkeling van ’n doeltreffende pokketeenmiddel aan die einde van die 1790’s het hoop gebring. Teen 1805 is nagenoeg 5 000 inentings aan die Kaap gedoen. Inentings het in die vroeë 1800’s die doeltreffende antwoord op die siekte gebied, maar mettertyd het die tragedie van die siekte waarskynlik uit Kapenaars se gemeenskaplike bewussyn verdwyn en het inentingsvlakke gedaal.

In 1840, 1858 en 1882-1883 het verdere pokke-uitbrake gevolg. Hierdie keer het pokke sy kloue selfs dieper in die binneland ingeslaan. 

Sterftes aan die Kaap

Die sterftesyfer weens pokke in die vroeë 1700’s is in ander wêrelddele op tussen 20% en 30% gereken. Die pandemie van 1713 het egter die inwoners aan die Kaap uitsonderlik erg getref en die sterftesyfer hier is op nagenoeg 30% gereken. Sowat 25% van die Nederlandse setlaars aan die Kaap het gesterf en volgens ’n eietydse werknemer is geraam dat slegs een uit elke tien Khoi-Khoi aan die Kaap die siekte oorleef het. Hoewel die pokke-uitbrake wat in die 1800’s plaasgevind het, meer menselewens geëis het, was die persentasie mense wat gesterf het veel laer. In 1840 was die vlak op 12% gereken, terwyl die uitbrake van 1858 en 1882-1883 onderskeidelik 8% en 7% was.

Behandeling

Met die uitbraak van die eerste pokke-pandemie aan die Kaap in 1713, was inwoners dikwels aan hul eie genade oorgelaat. Die regering het min hulp gebied en families moes hul eie siekes versorg. Omstandighede het met verloop van die dekades verander en ’n beter begrip van die siekte het gelei tot die toepassing van meer doeltreffende voorkomingsmaatreëls. Tog het mense na elke moontlike oplossing gegryp en allerlei behandelings – insluitende die aanwending van verskeie salwe, toediening van kruie-aftreksels, suurlemoenwater en boegoe. Selfs die praktyk van bloedlating is toegepas. Tradisionele Khoi-behandelings is soms deur setlaars gevolg, terwyl Khoi-Khoi en slawe hulle ook na Westerse behandelings gewend het. Al hierdie behandelings was egter sonder sukses. Die wêreld moes tot die einde van die 1700’s wag op ’n antwoord in die vorm van ’n voorkomende middel.

Volgens Phillips is mense se soektog na antwoorde in tye van pandemies kenmerkend. Die pokkepandemies aan die Kaap was geen uitsondering nie. Talle slawe wat die Moslemgeloof beoefen het, het talismans met inskripsies uit die Koran by hulle gedra as ’n vorm van beskerming teen die siekte. Christene het gevas en gebid en oor die algemeen die siekte as God se straf op die mens se sonde beskou. Op hul beurt het die Khoi- en Xhosa-gemeenskappe die vinger gewys na mense wat hulle as die bron van die siekte beskou het – naamlik die Nederlanders aan die Kaap. Phillips verwys ook na gevalle waar omstanders moes aanskou hoe Khoi-Khoi Nederlanders vervloek en beweer het dat hulle deur die Nederlanders getoor is. Phillips hou vol dat vingerwysende optrede na ander ’n algemene verskynsel in historiese én hedendaagse pandemies is.

Vandag is pokke iets van die verlede en volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is die laaste natuurlike voorkoms van pokke in 1977 in Somalië aangeteken. In 1980 is verklaar dat pokke in sy geheel uitgeroei is.