Pretoria FM Boekefees: Want LEES is ’n FEES!

Pretorianers kan hul vere regskud, want hier kom ’n FEES! Die Pretoria FM Boekefees word vanaf 12 tot 14 September by Loftus Park gehou, so maak gereed vir ’n program propvol van die allerbeste, allerlekkerste wat Afrikaanse literatuur kan bied. Ondersteun gerus Kraal Uitgewers se skrywers by dié fees en maak seker dat jy nie die legendariese fotojoernalis Wessel Oosthuizen en die tophistorikus Jackie Grobler misloop nie.

Wessel Oosthuizen: Die man agter die kamera
Pretoria FM Boekefees-gesprek: Donderdag 12 September om 18:00

Dink maar aan ’n interessante nuusgebeurtenis wat die afgelope nagenoeg 40 jaar in Suid-Afrika (of selfs die wêreld) plaasgevind het, en die kans is baie goed dat die topfotojoernalis Wessel Oosthuizen sy kamera daarop gefokus het. Drie Oosthuizen-publikasies sowel as tientalle unieke foto’s uit sy loopbaan sal onder die vergrootglas kom tydens die Pretoria FM Boekefees. Kuier op Donderdag 12 September om 18:00 saam met dié gesoute fotograaf tydens die Pretoria FM Boekefees. Toegang is gratis. Klik hier vir die volledige program.

Meer oor Wessel Ooshuizen se boeke

  • Sy outobiografie Boesman van Val is ’n reis deur tyd en die mees opspraakwekkende nuusstories soos gesien deur die oë van die fotograaf wat self daar was. Elke foto vertel ’n uitsonderlike verhaal en word toegelig met ’n toepaslike beskrywing of artikel om die foto en die gebeure in konteks te plaas. Herbeleef die sukses van Suid-Afrika se jong kaalvoetatleet Zola Budd; die gloriedae van Mannetjies Roux; die skoonheid van Anneline Kriel; en vele meer.
  • Portrait of rugby: Die tweede en uitgebreide weergawe van die gevierde fotograaf Wessel Oosthuizen se meesterlike werk, Portrait of rugby,vertel die verhaal van rugby se grootste legendes deur middel van 1 237 foto’s deur Oosthuizen en nagenoeg 40 van sy kollegas. Kom in die regte stemming vir die 2019 Rugby Wêreldbeker-toernooi met hierdie pragpublikasie.
  • South Africa at the Olympic Games: Dié boek deur die sportfotograaf Wessel Oosthuizen en sportjoernalis Faffa Loubscher laat die Suid-Afrikaanse legendes van dié hoogaangeskrewe sporttoernooi herleef. Stap terug in tyd met elke Spele waaraan Suid-Afrika nog deelgeneem het. Die reis begin by die triomfantlike 2012-oorwinnings van sporthelde soos Chad le Clos en Cameron van der Burgh, en volg die pad tot by Suid-Afrika se hertoetrede tot die Olimpiese arena in 1992. Dit bevat ook ’n volledige lys en besonderhede van alle Suid-Afrikaanse Olimpiese atlete wat sedert die nieamptelike eerste deelname in 1904 tot 1960 aan die Spele deelgeneem het. 

Jackie Grobler en die oorlog waarvan meeste mense vergeet het
Pretoria FM Boekefees-gesprek: Vrydag 13 September om 10:00.
Toegang: R20 p.p.
 

Praat jy van oorloë in Suid-Afrika, sal die meerderheid waarskynlik iets kan sê oor die Anglo-Boereoorlog. Die eerste Boer-teen-Brit-oorlog (1880-1881) – buiten die gebeure by die Slag van Majuba – het egter vir talle egter in vergetelheid geraak. Die meesterlike Jackie Grobler  het die gebeure van die Eerste Vryheidsoorlog weer ’n regmatige plek in Suid-Afrikaanse geskiedskrywing gegee met sy publikasie oor dié oorlog. Grobler, wat vir bykans 40 jaar as dosent verbonde was aan die Departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria, is ’n gerekende kenner van die negentiende-eeuse Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Verskeie boeke en akademiese artikels het al uit sy pen verskyn. Dit sluit in: The war reporter: The Anglo-Boer War through the eyes of the burghers; Groot Trek-dagboek van Louis Tregardt; en The Anglo-Boer War: A historical guide to memorials and sites in South Africa. Sy jongste boek, Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881, spruit uit Grobler se doktorale proefskrif oor hierdie onderwerp. Dit het in Desember 2018 by Kraal Uitgewers verskyn en is onlangs vereer met die Suid-Afrikaanse Akademie se gesogte Protea Boekhuisprys vir Afrikaanse geskiedskrywing. 

Meer oor Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 deur dr. Jackie Grobler

Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 is die mees omvangryke bron oor dié oorlog en bevat nagenoeg 200 foto’s, kaarte en illustrasies. Die leser ervaar hierdeur die oorlog soos dit nog nooit vantevore opgeteken is nie – met gedetailleerde beskrywings en inligting uit Boere- en Britse bronne oor die aanloop tot die stryd; die beleëring van onder meer Potchefstroom, Pretoria en Standerton; en inligting oor elke bloed- en sweetoomblik by die veldslae van Laingsnek, Schuinshoogte en die finale, legendariese Slag van Majuba.

Boekefees_Program