Toon al 9 resultate

Andries Raath

Andries Raath was op Ventersdorp op skool en behaal sy BJur en LLB aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy was vir meer as 30 jaar verbonde aan die Regsfakulteit van die Universiteit van die Vrystaat (UV), waar hy ook ’n MA en DPhil behaal het. Prof. Raath het aan die einde van 2012 amptelik afgetree maar is steeds as ’n navorsingsgenoot betrokke by die departement publiekreg aan die UV. Sy spesialisveld is regsgeskiedenis, regsfilosofie en die geskiedenis van pioniersgemeenskappe.

Raath was die reeksredakteur van die Erwe van ons vaad’re-reeks van Kraal Uitgewers. Die sewende en laaste boek in dié gewilde reeks was Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 deur Pieter de Jager. Dit het in 2018 verskyn. Van die ander titels in die Erwe-reeks is Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 (Andries Raath en Danie Langner) en De La Rey: ’n Stryd vir vryheid (Andries Raath). Hy het oor die jare baie navorsing gedoen oor die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) en het dikwels die kollig op die stryd van die vrou in die ABO laat val in sy publikasies.

Prof. Raath is een van die sprekers tydens die internasionale konferensie oor die 120-jaar herdenking van die Anglo-Boereoorlog. Dit vind van 9 tot 11 Oktober 2019 by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein plaas – inderdaad ’n geleentheid om nie mis te loop nie.

Publikasies deur prof. A.W.G. Raath:

• Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902 (mede-outeur saam met Elria Wessels)
• De la Rey: ʼn Stryd vir vryheid (mede-outeur saam met kol. F.J. Jacobs)
• Afrikaner op trek (mede-outeur saam met S.A. Strauss)
• Die Boerevrou, 1899-1902
• Die konsentrasiekamp te Bloemfontein gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902
• Die konsentrasiekamp te Springfontein gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (mede-outeur saam met R.M. Louw)
• Die konsentrasiekamp te Vredefortweg gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (mede-outeur saam met R.M. Louw)
• Egodokumente: Persoonlike ervaringe uit die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (mede-outeur saam met kol. F.J. Jacobs)
• Selfbeskikking en sesessie: Die saak vir die Afrikanervolk
• Vroueleed: Die lotgevalle van die vrou en kinders buite die konsentrasiekampe, 1899-1902 (mede-outeur saam met R.M. Louw)
• The British Consentration Camps of the Anglo-Boer War, 1899-1902: Reports on the camps
• Nicolaas van Rensburg: Die siener
• Die Afrikanerrebellie, 1914-1915

Spesiale Prys