KRAAL UITGEWERS IS GESLUIT VIR DIE FEESSEISOEN VAN 13-12-2018 TOT 11-01-2019 Dismiss

Toon al 2 resultate

JC Steyn

J.C. (Jaap) Steyn is bekend as biograaf en kultuurhistorikus, en het gedurende sy loopbaan onder meer as joernalis, skrywer en dosent aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite gewerk. Ná skool het hy aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat studeer waar hy ʼn BA-graad in Afrikaans-Nederlands en Duits verwerf het. Hy het later ʼn MA-graad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands behaal. Hierna het hy sy vlerke geslaan en aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gaan studeer waar hy in 1966 sy doktorale eksamen (cum laude) in algemene taalwetenskap afgelê het. As joernalis was hy verbonde aan die redaksies van Die Volksblad en Rapport, en as dosent was hy verbonde aan die Universiteit van Port Elizabeth, die Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van die Vrystaat, waar hy professor in Afrikaans en Nederlands was. Verskeie werke, waaronder die digbundel Die grammatika van liefhê (1975); die kortverhaalbundel Op pad na die grens (1976); die novelle Dagboek van ʼn verraaier (1978); en die taalpolitieke werk Tuiste in eie taal (1980) het uit sy pen verskyn. Daarbenewens was Steyn ook verantwoordelik vir biografieë van N.P. van Wyk Louw (1998), Piet Cillié (voormalige redakteur van Die Burger) (2002) en M.E.R. (2004), asook die herinneringsboeke Hoeke Boerseuns ons was (1991) en Sonkyker: Afrikaners in die verkeerde eeu (2008). Hy het talle bydraes oor taal-, uitgewers- en persgeskiedenis in vaktydskrifte en koerante gepubliseer.

Steyn het verskeie Akademie- en ander pryse ontvang, insluitend die Eugène Maraisprys vir Die grammatika van liefhê; die Stalsprys vir Geskiedwetenskappe vir Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal; die Louis Hiemstraprys vir niefiksie vir Die honderd jaar van M.E.R.;die C.J. Langenhovenprys vir Taalwetenskap en die N.P. van Wyk Louwmedaje vir die volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe.