Toon al 4 resultate

Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is hier en in die buiteland bekend as politieke kommentator, militêre kenner, historikus, akademikus, skrywer en joernalis. Sy jongste boek Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 het in April 2019 by Kraal Uitgewers verskyn. Ontmoet hierdie man van sesse klaar.

Scholtz en sy vrou woon in die pragtige Delft, Nederland maar hy is steeds verknog aan sy geboorteland en besoek Suid-Afrika gereeld. Tans is hy die Europa-korrespondent vir Media24 se Afrikaanse koerante. Hy is ook as navorsingsgenoot by universiteite betrokke.

Hy behaal in 1978 ’n doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Leiden in Nederland op grond van ’n proefskrif oor Generaal Christiaan de Wet as veldheer. Dit is ook hier in Leiden waar hy die pragtige Nederlandse nooientjie raakgesien het en nie lank daarna nie, is hy en Ingrid (ook ’n historikus) getroud. Hy het toe ’n joernalis geword en sy professionele loopbaan in Suid-Afrika afgesluit as adjunkredakteur van Die Burger.

Scholtz praat met groot waardering en bewondering van sy oorlede vader, dr. G.D. Scholtz, wat ’n gerekende historikus was en ook talle publikasies die lig laat sien het. Met reg beskou hy sy vader as die persoon wat die belangrikste akademiese invloed op sy lewe gehad het.

Jongste boek
Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 spruit uit Scholtz se MA-verhandeling wat hy in 1971 aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit onder leiding van prof. Floors van Jaarsveld geskryf het. In hierdie boek ondersoek hy die soms wankelrige en wispelturige verhoudings tussen die Transvaalse en Vrystaatse leierskap. Die kollig val op die minder bekende “stryd agter die stryd” van die Anglo-Boereoorlog: die verskillende standpunte en oortuigings van die republikeinse leiers; botsende persoonlikhede en opbouende spanning.

Kraal Histories
Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 is die tweede boek in die Kraal Histories-reeks en volg op Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923 (deur Zelda Rowan) wat in 2016 uitgegee is. Die doel van die reeks is om leesbare en wetenskaplike MA-verhandelings en doktorale proefskrifte oor Suid-Afrikaanse geskiedenis en kultuur aan die Afrikaanse leser te bied. Die reeksredakteur is Fransjohan Pretorius, emeritusprofessor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Publikasies
Leopold Scholtz het talle publikasies op sy kerfstok, onder meer Ratels aan die Lomba (2018), Kruispaaie: Afrikanerkeuses van die 19de en 20ste eeu (2016) en The SAND in die Border War: 1966-1989 (2013). Daar verskyn ook gereeld artikels deur hom in koerante en tydskrifte.