Toon al 2 resultate

Andries Breytenbach

Van jongs af is sy verbeelding geprikkel deur die Voortrekkers se stryd teen die oormag van die Zoeloes; die Boere se heldhaftigheid teen die magtige Britse Ryk en die Duitse wapenstryd teen die geallieerde magte. Daarom wou hy ’n soldaat word – ’n droom wat inderdaad bewaarheid is. Maar nou kan die oudsoldaat Andries Engelbertus Breytenbach ook spog met ’n pragboek wat pas by Kraal Uitgewers verskyn het. Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog handel oor ’n belangwekkende veldslag waarin die Boerekrygers se dapper optrede en merkwaardige uithouvermoë deurslaggewend was.

Andries Breytenbach is op 10 Julie 1947 in Kaapstad gebore, maar het in Pretoria grootgeword. Ná skool sluit hy by die Suid-Afrikaanse Leër (Infanteriekorps) aan en behaal die BMil-graad aan die Militêre Akademie te Saldanha wat deel is van die Fakulteit Krygskunde, Universiteit Stellenbosch. As seun van dr. J.H. Breytenbach, in lewe staatshistorikus en voorste kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, het hy ’n sterk bewussyn van en waardering vir die Afrikaner se geskiedenis, politiek en kultuur ontwikkel. Sy vader het dikwels na die besondere veldslag by Donkerhoek, digby Pretoria, verwys. Tydens sy nagraadse studie aan Unisa het dit hom bygebly en daarom het hy besluit om dit deeglik na te vors as onderwerp vir sy magisterverhandeling. Wat vir hom veral uitstaan van hierdie veldslag is Louis Botha en sy offisiere se vermoë om met só min burgers (kwalik 4 000) en karige artilleriesteun ’n linie van 40 km te beset en ’n oormag wat hulle vyfvoudig oortref het, twee dae lank teë te hou.

Breytenbach verduidelik hoekom die Slag van Donkerhoek as ’n keerpunt in die Anglo-Boereoorlog bestempel word:

“Donkerhoek was die laaste oorwoë stellinggeveg van die oorlog. By Dalmanutha (21-27 Augustus 1900) sou die Boere weliswaar nog een keer vanuit vaste posisies so ‘n Britse aanslag trotseer, maar reeds met Donkerhoek is besluit om volskaals oor te gaan tot die sogenaamde guerrillataktiek, wat die aard van die stryd heeltemal verander het. Direk ná hierdie slag is offisiere na hul streke gestuur om drosters op te vorder en die uitgerafelde kommando’s te herorganiseer. Droë hout is afgeskud en die stryd is daarna met nuwe ywer en geesdrif gevoer.

“Die Britse leërleiding het gehoop om die oorlog te beëindig met die inname van Pretoria. Die Boere se onverwagte taai weerstand by Donkerhoek het hulle egter laat besef dat dié inname net ’n hol oorwinning was. Hulle het reeds gesien dat die proklamering van die Vrystaat as Britse gebied nie die Vrystaters tot onderwerping gedwing het nie. Inteendeel, De Wet se optrede by Rooiwal en ander plekke het aan hulle ’n voorsmaak gegee van die nuwe aard van die oorlog en wat hulle kon verwag nadat Transvaal ook besluit het om die stryd voort te sit. Daarom het Roberts vier dae ná Donkerhoek, op 16 Junie 1900, daardie infame proklamasie uitgevaardig waardeur oorgegaan is tot die verskroeideaardebeleid en die misdadige optrede teen die weerlose vroue en kinders.”

Breytenbach noem dat van die voorste leiers in die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) in ’n stadium op moedverloor se vlakte was en weens die drostery en hendsoppery van groot getalle burgers nie meer kans gesien het om voort te veg nie, maar onder aansporing van hul volksgenote in die Vrystaat het hulle weer moed geskep en hul staal teen die Britte getoon.

Die kernboodskap wat veral die jonger geslag ter harte kan neem, is die volgende: “Al het hulle [die Boere] uiteindelik die oorlog verloor, was die heldedom wat uit daardie stryd gebore is, die brandstof vir Afrikanernasionalisme wat ons volk in staat gestel het om sowat 60 jaar later selfs ’n groter republiek te verkry as dié waarvoor hulle in daardie oorlog gestry het. Ons moet dus leer om met ’n geloofsoog verder te kyk as die onmiddellike gebeure, want ’n volk leef voort in sy geslagte. Ideale wat nie in een geslag vervul word nie, word dikwels in ’n volgende geslag bereik,” sê Breytenbach.

Van die Boerekrygers en -leiersfigure wat Breytenbach bewonder is onder andere Danie Theron, generaals Christiaan Beyers, Christiaan de Wet en Koos de la Rey, president Paul Kruger en president M.T. Steyn. Hy maak veral melding van generaal J.B.M. Hertzog wat ná die oorlog ’n reuserol gespeel het in die opheffing van die Afrikaner en die vestiging van nasietrots. Generaals Louis Botha en Jan Smuts verdien ook lof vir hul rol in die oorlog, maar omdat hulle later aanhangers van die Britse Ryk geword het, het hul roem by baie Afrikaners verdof as synde verraaiers van hul volk.
Breytenbach vergeet egter nie van die onbesonge helde nie: “Dan is daar die meestal onbekende burgers wat getrou en enduit hul plig op kommando gedoen het, geoffer het wat van hulle gevra is en kaalgestroop uit die oorlog gekom het: vrou en/of kinders dood of verniel in die konsentrasiekampe en hul plase verwoes. Al is hulle name dalk onbekend, was hulle trou en lojaliteit aan ons volk se strewe altyd vir my ’n nastrewenswaardige voorbeeld en was elkeen van hulle ook ’n rolmodel.”

Ná ongeveer tien jaar in die Suid-Afrikaanse Weermag, het Andries Breytenbach sy loopbaan by die Krygstuigraad (die latere Krygkor) voortgesit en in 2008 met pensioen uitgetree. Maar getrou aan die aard van ’n militaris, bly hy besig daar waar hy in die Kleinfontein-kultuurgemeenskap suidoos van Pretoria woon. Dit is juis hier, binne die grense van Kleinfontein, waar die kern van die Donkerhoek-veldslag op die suidelike flank en die Britse deurbraak plaasgevind het. Die begraafplaas vir Britse gesneuweldes is ook hier en word goed in stand gehou.

Breytenbach is ’n direksielid van die Volkseie Museumraad en die voorsitter van die Kleinfontein Museumkomitee. Hulle beywer hulle vir die daarstelling van ’n veilige bewaarplek vir volkseie erfenisgoedere. Die hoofstruktuur is bykans voltooi en verdere konstruksiewerk word voortgesit namate fondse beskikbaar word. Hulle beoog om alle lewensfere van die Afrikanervolk uit te beeld – moontlik so ver terug as die sestiende eeu se Hervorming. Verskillende voorwerpe, kunswerke, publikasies, beeld- en klankmateriaal sal gebruik word vir tematiese uitstallings. ’n Waardevolle museumstuk wat hulle reeds ontvang het, is die tronkdeur van die gevangenis waar die Slagtersnekrebelle aangehou is. (Die Slagtersnek-opstand van 1815 in die Oos-Kaap was een van die aanleidende oorsake van die Groot Trek, omdat dit tot bittere haat teenoor die Britse owerheid in die Kaapkolonie gelei het.)

Hierdie oudsoldaat met die sterk geloof en onblusbare gees lees graag oor ’n verskeidenheid onderwerpe; neem periodiek deel aan radioprogramme; tree op as spreker by Geloftefeeste en skryf tydskrifartikels, veral oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy erken dat hy selfs weer sy hand aan ’n nuwe boek sal waag – hopelik sal Kraal Uitgewers eerste daarvan hoor!

—————–