Showing the single result

Heinrich Matthee

Heinrich Matthee is ’n wêreldburger met vele talente. Sy beroep bring hom in aanraking met verskillende taal- en kultuurgroepe maar tog het hy steeds ’n liefde vir sy moedertaal en beywer hy hom vir die behoud van Afrikaans aan akademiese instellings.

Heinrich is in 1964 in Kaapstad gebore. Hy het op Stellenbosch grootgeword en behaal in 1986 ’n BA LLB-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy beskik onder meer ook oor ’n BAHons in strategiese studies (Unisa), ’n meestersgraad in internasionale studies (Universiteit van Birmingham) en ’n DPhil in politieke wetenskap (magna cum laude), wat hy aan die Universiteit van Marburg, Duitsland behaal het.

Dr. Matthee is ’n politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek. Hy het vir etlike jare in die Midde-Ooste en in Noord-Afrika gewoon en gewerk, maar is deesdae in Nederland gesetel waar hy onder andere ’n gasnavorser by die Universiteit van Amsterdam is.

Hy skryf gereeld artikels vir Afrikaanse en Europese nuusmedia, en lewer ook bydraes vir akademiese vaktydskrifte. Hy is die skrywer van Muslim identities and political strategies: A case study of Muslims in the greater Cape Town area of South Africa, 1994-2000 (2008) en die redakteur van Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd, wat in 2017 by Kraal Uitgewers verskyn het.