Hennie van Coller

Toon al 2 resultate

Hennie van Coller, die gerekende en bekroonde letterkundige, is ’n man van vele talente en belangstellings. Hy het jare se ondervinding as akademikus – eers aan die destydse Universiteit van Natal en toe aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy steeds uitstaande professor (emeritus) en navorsingsgenoot is. Hy is ook buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit. Van Coller is ’n voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en tans die voorsitter van die Letterkundekommissie van die Akademie. Hy is ook lid van die Academy of Science of South Africa (ASSAf).

Van Coller se eie kreatiewe skryfwerk sluit poësie en kortverhale in. Met sy deeglike kennis van die Nederlandse taal en kultuur was hy die aangewese persoon om Luuk Gruwez se gedigte in Weerbare weemoed in Afrikaans te vertaal en vir ’n groter teikenmark toeganklik te maak.

Karin Heydenrych van Kraal Uitgewers het per e-pos nader kennis gemaak met hierdie letterkundige wie se woorde – soos goeie wyn – sag op die tong bly talm.

Onderhoud met prof. Hennie van Coller

Baie geluk met Weerbare weemoed wat onlangs by Kraal Uitgewers verskyn het. U het die Afrikaanse vertalings uit Nederlands gedoen. Vertel asseblief van u eerste kennismaking met Luuk Gruwez se gedigte en hoekom u so aanklank daarby gevind het.
’n Hele paar jaar gelede – ek dink in 2007 – het ek ’n vertalerswerkswinkel georganiseer by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Vier Afrikaanse digters (Daniel Hugo, Louis Esterhuizen, Charl-Pierre Naudé en Vincent Oliphant) en vier Nederlandstalige digters (Luuk Gruwez, Miriam Vanhee, Willem van Toorn en K. Michel) moes respektiewelik gedigte van die ander taalgroepering vertaal. Om my besig te hou terwyl hulle geswoeg het, het ek ook my hand gewaag aan vertaling, veral die werk van die twee Vlaamse digters, Gruwez en Vanhee, het my aangespreek. Gruwez se verse met hul klankrykheid, humor, onderkoelde emosie en ironie het stelselmatig onder my vel gekruip. Blote romantiek, sentimentaliteit, woordrykheid, die groot gebaar en vertonerige betrokkenheid stoot my af. Daarvan is niks in Gruwez se werk nie; wel ’n mineurtoon en by tye iets van J.C. Bloem – een van my gunstelingdigters. Boonop is Gruwez by uitstek ’n rasegte digter wat sy vak tot in die puntjies beheers.

In 2007 het Bandelose gedigte Dit is u eerste bundel met vertalings van Gruwez se gedigte. Vertaling – en spesifiek van poësie – is nooit maklik nie. Hoekom pak u hierdie uitdagende taak aan?
In die inleiding tot Weerbare weemoed suggereer ek dat dit om valse hubris gaan; dalk ook die hunkering om te dig. Maar meer prosaïes is vertaling ook ’n diens aan lesers: daardeur kry hulle toegang tot tekste wat weens sekere struikelblokke (bv. ten aansien van taal en kultuur) andersins vir hulle ontoeganklik sou wees. Ek is boonop dol oor speurverhale en historiese verslae. Vertaling bevat iets van beide: die soeke na betekenis in die oorspronklike teks is ’n speur- en ontdekkingstog; ’n poging om naby iets te kom wat ver van jou is.

Wat is u werkswyse? Behou u byvoorbeeld die kultuur-spesifieke elemente of skryf u as’t ware die gedig oor om in die Suid-Afrikaanse konteks te pas? Raadpleeg u ook die digter?
Ek is onbeskaamd ’n voorstander van “vervreemding” in die woorde van Lawrence Venuti (vertalingteoretikus); ek probeer selde om te “domestikeer” of te verhuislik, behalwe as dit tot onbegrip sou kon lei. Dit beteken dat ek die brontaal vooropstel; uiteraard sonder om my Afrikaanse lesers uit die oog te verloor. Vertaling is altyd iets van ’n goëltoertjie of balanseeroefening. Ek het al baie gedigte vertaal (onder meer gedigte uit die Middeleeue en die sewentiende eeu) waar ek helaas nie die digter kon raadpleeg nie. In die geval van Gruwez se gedigte het ek hom albei kere wel geraadpleeg met groot vrug – nie omdat ek dit noodsaaklik ag nie, maar in die onderhawige geval omdat Gruwez Afrikaans goed begryp en omdat sy verse dikwels skarnier om bepaalde (moeilike) woorde en klankverbindings. So kon ek my keuses aan hom voorlê.

Om uit Nederlands te vertaal is ’n grondige kennis van die Nederlandse taal en kultuur nodig. Waar het u hierdie liefde vir Nederlands ontwikkel? Is u voorouers dalk van Nederland of België?
Nee, my pa het wel vir ’n tydjie in Amsterdam gebly tydens sy studietydperk in Londen (1950/1951), en my ouers se vertellings en memento’s het my belangstelling verder geprikkel. Boonop is ek getroud met ’n vrou (Elsa van der Straaten) wie se pa ’n Nederlander was en kon ons kort ná ons troue vir twee jaar in Nederland woon waar ek my doktorale eksamen in literatuurwetenskap en Nederlandse letterkunde gedoen het in Utrecht. Daarna het ons dikwels vir lang tye in die Lae Lande gebly, byvoorbeeld in Leuven vir twee tydperke van nege maande toe ek gasprofessor daar was en later vir ’n jaar in Brussel waar ek kon werk by die Koninklike Vlaamse Akademie.

Afrikaanse vertalings van Nederlandse tekste en Nederlandse vertalings van Afrikaanse tekste is deesdae redelik beskikbaar en selfs in aanvraag. Waaraan skryf u hierdie “oplewing” in vertaalde werk toe?
Waarskynlik aan verskeie faktore: ’n beter wedersydse verhouding; die besef van taalverwantskap en les bes, goeie finansiële ondersteuning van uitgewers en vertalers.

Hennie van Coller, vertaler van Weerbare weemoed (Foto: Verskaf)
Hennie van Coller, vertaler van Weerbare weemoed (Foto: Verskaf)
Is digbundels ’n luukse of ’n noodsaaklikheid?
Is lug noodsaaklik? Kuns? Musiek? Wyn? Seks? Vir my is die antwoord telkens duidelik, omdat al die genoemde entiteite/objekte of aktiwiteite vir my noodsaaklike bestanddele van ’n sinvolle bestaan is.

Wat is u gunstelinggedig in Weerbare weemoed? Vertel meer oor dié gedig en hoekom dit u gunsteling is.
Daar is geen enkelgedig nie, want my voorkeur verander telkens soos my bui en omstandighede verander. Onlangs was ek en my vrou erg siek aan Covid-19. Gedigte met sterflikheid as tema (waarvan daar heelwat in hierdie boek is) spreek my nou aan. Maar ook die weerstandigheid van die mens – en veral die kuns as “amulet teen die vuur”.

U het self kreatiewe skryfwerk op u kerfstok wat poësie en kortverhale insluit. Watter genre verkies u?
Beide stel sy eie uitdagings. Ek verkies enige korter kunsvorm, juis vanweë die digtheid daarvan.

Werk u tans aan ’n nuwe bundel of boek?
Ja, aan ’n digbundel wat ook baie vertalings bevat. ’n Boek van my en Joanita Erasmus-Alt oor “ekstrinsieke” faktore wat boekevaluerings bepaal, is tans op die pers.

Benewens die letterkunde, skryfwerk, vertalings en navorsing watter ander belangstellings het u en waarmee hou u u besig?
Ek reis graag, en maak, drink en versamel wyn. Voorts bak en brou ek graag as die gogga my byt.