Die naam Koos Malan word dikwels gehoor wanneer konstitusionele kwessies bespreek word. Sy naam verskyn ook in Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd met Heinrich Matthee as die redakteur. Malan was saam met plaaslike en internasionale kenners ’n medewerker aan hierdie boek wat in 2017 by Kraal Uitgewers verskyn het. Maar wie is hierdie man met die grondige regskennis?

Koos Malan het ’n BAHons in politieke wetenskap en internasionale politiek aan die Universiteit van Pretoria behaal, en daarna ’n BIur en LLB aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Die titel van sy LLD (ook by Unisa) is “’n Jurisprudensiële ontleding van die staatlike paradigma en van staatlike identiteit”. Hy was eers ’n staatsaanklaer en magistraat. Daarna was hy vir agt jaar verbonde aan die justisiekollege by die departement van justisie voordat hy in 2000 as senior lektor by die destydse Vista Universiteit aangestel is. Met Vista se samesmelting met die Universiteit van Pretoria het prof. Malan deel geword van die Departement Publiekreg.

Malan is veral ’n kenner op die gebied van teoretiese staatsreg soos grondwetlike oppergesag, konstitusionele verandering en demokrasie asook minderheidskwessies en taalreg. Hy was ’n stigterslid, asook die eerste voorsitter, van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans. Hy dien op die adviesraad vir die Revue de Droit Linguistique/Journal of Language Law en is ’n lid van die International Observatory on Language Rights. Hy publiseer gereeld artikels in vaktydskrifte en in populêre publikasies.

Die titel van prof. Malan se bydrae in Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd is “Afrikaners se konstitusionele uitdaging ’n geslag na die aanvang van die grondwetlike oorgang van die middel 1990’s”.

<p>Geen produkte is tans in hierdie kategorie beskikbaar nie.</p> <p><a href="https://www.kraaluitgewers.co.za/e-winkel/">Kliek hier</a> en gaan snuffel in die Kraal Uitgewers-winkel.</p>