Propvol ABO-studiedag op 8 Junie 2019: Ontdek die man agter “Skote Petoors”

Die bekende uitroep “Skote Petoors” het generasies lank reeds plek in die volksmond gekry. Tog is die verhaal van die ware Pretorius een wat in die vergetelheid geraak het. Volgens oorlewering het die 28-jarige Pretorianer Johannes Lodewicus (Lood) Pretorius met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 as hoof van die Derde Battery van die ZAR se staatsartillerie na die Natalse front vertrek. Binne enkele dae is ’n aanval op die Britse kamp by Dundee uitgevoer en Pretorius se vernuftige kanonwerk het waarlik die kol getref – waarna een van die Boere blykbaar uitgeroep het: “Skote Petoors!”

Maar wie was dié man nou eintlik? Op Saterdag 8 Junie sal die skrywer-historikus Leon Strachan geskiedenisliefhebbers inlig oor die oorspronklike meesterskut Skote Pretorius – die kalm en akkurate artilleris van die Staatsartillerie.

Dié lesing sowel as sewe ander lesings en besprekings wat fokus op verskeie elemente van die Staatsartillerie word tydens die Anglo-Boereoorlog-studiedag getiteld “Skote Petoors vir die Staatsartillerie in die Anglo-Boereoorlog” aangebied. Verskeie tophistorici – onder andere Anton van Vollenhoven, Louis Changuion, Tian Schutte en Johan Wolfaardt – sal as sprekers optree.

Die studiedag skop om 08:30 af in die Kunslokaal van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die lesings en besprekings sal in die oggend aangebied word, waarna gaste na verskeie historiese terreine sal vertrek. Besoek sal onder meer gebring word aan Fort Klapperkop en die Groen Magasyn, waarna ’n skemerkelkie in Fort Schanskop aangebied sal word.

Die geleentheid word aangebied deur die ABO-studiegroep in samewerking met die SA Akademie. Bywoning van die studiedag beloop R350 per persoon en sluit alle lesings, ’n ligte middagete, toegangsgeld by die onderskeie historiese terreine en die skemerkelkie in.

Kraal Uitgewers-boeke oor die Anglo-Boereoorlog sal ook te koop wees. Kaartfasiliteit sal beskikbaar wees.

Kontak Theo Ligthelm by theo@crisismedicine.co.za vir meer inligting of om jou plek te bespreek. Bespreking is noodsaaklik en moet asseblief vóór of op 31 Mei 2019 gedoen word.

Klik hier vir die volledige program.

Program Staatsartillerie soos op 14 April