Punt.-gedigtekompetisie: Gryp die pen en maak jou Punt.

Die geliefde Afrikaanse digter D.J. Opperman het geskryf: “Die rym neem ook ’n hele lewe in beslag: / jou doen en dink, jou soek na ander en jou wag.” Klink dit bekend? Broei ritmiese rymwoorde in jou gedagtes? Borrel jou pen oor met die een versreël na die ander? Dan is dit nou die tyd om jou eie woorde neer te pen en jou punt te maak en vandag nog in te skryf vir Punt., Kraal Uitgewers se eerste gedigtekompetisie.

Hoekom die Punt.-kompetisie?

Gedigte is baie mense se manier om uiting te gee aan hul emosies. Dit kan jou ook laat dink, lag of huil. Digkuns is een van die oudste vorme van kuns en is tradisioneel daarvoor bekend dat dit ’n aansienlike hoeveelheid gedagtes in ’n paar woorde kan saamvat. Gedigte is ’n uitstekende manier om ’n groot verskeidenheid emosies oor te dra. Gevolglik kan goeie gedigte jou inspireer – van kinderrympies tot advertensies tot die liedjies op die radio. Digkuns is deel van ons lewe sonder dat ons dit eens agterkom.

Daarom vier Kraal Uitgewers die digkuns en skrywers word genooi om deel te neem aan die eerste Punt.-gedigtekompetisie.

Klik hier om in te skryf.

Kompetisiereëls:

  1. Wie mag deelneem?
    Die kompetisie is oop vir enige digter, ongeag ouderdom of vorige publikasierekord.
  1. Watter gedigte mag ingeskryf word?
  • Geen voorheen gepubliseerde gedigte sal aanvaar word nie.
  • Geen plagiaat sal geduld word nie. Indien ’n gedig as ’n oortreding van kopiereg beskou word, sal die inskrywing gediskwalifiseer word.
  • Hoogstens twee gedigte per inskrywing word aanvaar.
  • Gedigte moet in Afrikaans wees.
  • Daar is geen oorhoofse tema vir die gedigte nie – die doel is juis om aan skrywers vryheid te gee om hul eie gedagtes neer te pen.
  • Geen beperking ten opsigte van die lengte van die gedig sal geld nie.
  1. Wanneer is die sluitingsdatum?
    Die kompetisie strek vanaf 6 November tot 31 Desember 2017. Die wenners sal teen 15 Januarie 2018 aangekondig word en deur Kraal Uitgewers in kennis gestel word.
  1. Wie is die beoordelaars?
    ’n Onafhanklike paneel beoordelaars is verantwoordelik vir die beoordeling van die gedigte. Hulle besluit sal as finaal geag word, en geen verdere korrespondensie oor die besluite sal gevoer word nie.
  1. Publikasie van gedig
    Kraal Uitgewers behou die reg voor om die wengedig na afloop van die kompetisie te publiseer (in watter formaat of platform ook al). Die nodige erkenning vir die gedig sal deurlopend aan die skrywer gegee word. Let wel dat kopiereg nie deur die gebruik van hierdie gedig aan Kraal Uitgewers oorgedra sal word nie, maar dat die uitgewer bloot die reg het om die gedig te publiseer.
  1. Wat kan ek wen?
    Die skrywer van die wengedig sal ’n spesiale Kraal Uitgewers-geskenkpak wen. Dit bevat onder meer ’n pakket met Louw-produkte (die CD Rooidag met 13 toonsettings van N.P. van Wyk Louw se gedigte deur Leon Gropp, ’n N.P. van Wyk Louw of W.E.G. Louw T-hemp en koffiebeker).