Rebellie van 1914 – Dagboek: 11 Augustus 1914

Op 11 Augustus 1914 lig die magistraat van Lichtenburg, J.C. Juta, die Suid-Afrikaanse regering in dat hy verneem het dat genl. Koos de la Rey kommandeerbriewe in die Lichtenburg-distrik versprei.

Hiervolgens roep De la Rey alle burgers op om op 15 Augustus ’n vergadering op Treurfontein in die Wes-Transvaal by te woon. Hulle moet gewapen en met mondprovisie vir agt dae opdaag. Daar is ook gerugte dat De la Rey beplan om die Vierkleur te hys. De la Rey het blykbaar ook die vorige dag aan kol. Apie Bezuidenhout en genl. Jan Kemp gesê dat as die burgers bereid is om die Vierkleur te hys, hy (De la Rey) hulle na Paardekraal in Krugersdorp sal lei. Hy sou ook voorts vir Louis Botha nooi om by die kommando aan te sluit waar die burgers hom by Paardekraal as die president van die nuwe, vrye Suid-Afrikaanse Republiek sou uitroep. Kemp het blykbaar tevergeefs probeer om aan De la Rey te verduidelik dat hy oorhaastig is in sy optrede.

Volg die Rebellie van 1914 – Dagboek oor die volgende paar maande op Kraal se Facebook en webblad.
Lees die volle verhaal van die 1914-rebellie in Afrikanerrebellie, 1914-1915, beskikbaar by Kraal Uitgewers.