Rebellie van 1914 – Dagboek: 12 November 1914

Op 12 November 1914, vandag 106 jaar gelede, vind gevegte tussen Afrikanerrebelle onder leiding van Christiaan de Wet en die Unieverdedigingsmagte (UVM) by Hoenderkop en Mushroom Valley (ongeveer 50 km suidoos van Winburg en 100 km noordoos van Bloemfontein) plaas.

Die historikus André Wessels skryf hieroor in Die Afrikanerrebellie, 1914-1915:

“Die swak gewapende (en aanvanklik letterlik aan die slaap) Rebelle was nie in staat om veel weerstand te bied teen die georganiseerde UVM-troepe en hul artillerie (Cape Field Artillery) nie. Ná ’n kort dog hewige geveg, wat sowat 40 minute geduur het, was die Rebellie in die Vrystaat vir alle praktiese doeleindes verby. Ten minste 22 Rebelle het gesneuwel, meer as twintig is gewond en ongeveer 550 (dalk soveel as 800) is gevang. Ander het in verskillende rigtings gevlug. Aan regeringskant het ses man gesneuwel en is twintig gewond. Die res van De Wet se kommando (ongeveer 2 000 – of dalk minder – Rebelle) het onder sy bevel haastig die aftog geblaas en deur ’n nek wat, nieteenstaande Botha se bevele nie bewaak is nie, suidwaarts ontsnap, in die rigting van Excelsior. Soos telkens tydens die Anglo-Boereoorlog etlike jare tevore, het De Wet nog een keer aan ’n vangnet wat vir hom gespan is, ontkom en agterom Korannaberg verbygetrek. Gou het talle lede van sy kommando egter die Rebellemag verlaat. Hulle het genoeg gehad van dié swak beplande en duidelik tot mislukking gedoemde Rebellie.”

Lees meer oor dié geveg en die Rebellie in Die Afrikanerrebellie, 1914-1915 (onder redaksie van Andries Raath en Danie Langner). Die boek is hier beskikbaar teen slegs R330, ‘n besparing van R200! 

(Foto: ’n Kar met perde wat tydens die geveg by Mushroom Valley deur regeringstroepe gebuit is, bron: Die Afrikanerrebellie, 1914-1915.)


Volg die gebeure in aanloop tot, tydens en na afloop van die Rebellie soos wat dit dag vir dag ontvou het met die Rebellie van 1914 – Dagboek op Kraal se Facebook en webblad.

Lees ook meer oor dié gebeure in Afrikanerrebellie, 1914-1915, beskikbaar by Kraal Uitgewers teen slegs R330 gedurende November 2020.