Rebellie van 1914 – Dagboek: 3 November 1914

Op 3 November 1914 neem Christiaan de Wet en sy Rebelle die Vrystaatse dorp Lindley in. Sommige van die opstandelinge maak hulself blatant aan plundering van winkels skuldig.

Op dieselfde dag beset Jan Kemp en sy perdekommando – wat uit 610 man bestaan – Schweizer-Reneke vir ’n paar uur lank. Hulle kommandeer perde, muile en proviant op. Voor Kemp-hulle se vertrek uit die dorp, sluit nog sowat 70 mans uit die dorp en omgewing by dié Rebellegroep aan.

Die historikus Andries Raath skryf oor Kemp se opmars na Schweizer-Reneke: “Hier [Vleeskraal, noordoos van Schweizer-Reneke] vra Kemp vrywilligers om na Duitswes te gaan. Sy woorde was: ‘Ek wil manne hê wat nie bang is vir die koeëls, die hitte van die dag, die koue van die nag, die honger of die dors van die woestyn’ nie … Op 3 November bereik hulle Schweizer-Reneke, waar hulle die Vierkleur by die magistraatskantoor hys en hul voorrade aanvul.”

(Foto: ’n Groep Rebelle-offisiere en enkele manskappe gedurende die Rebellie. Op stoele v.l.n.r.: genls. J.C.G. Kemp, M. Maritz, en Niklaas van Rensburg, die Siener. Bron: Die Afrikanerrebellie, 1914-1915, Kraal Uitgewers. 


Volg die gebeure in aanloop tot, tydens en na afloop van die Rebellie soos wat dit dag vir dag ontvou het met die Rebellie van 1914 – Dagboek op Kraal se Facebook en webblad.

Lees ook meer oor dié gebeure in Afrikanerrebellie, 1914-1915, beskikbaar by Kraal Uitgewers teen slegs R330 gedurende November 2020.