Skrywersaanhaling van die week – 12 Oktober 2020: Dalene Matthee, Elsa Joubert

“Engels is weliswaar my beste vriend, maar ek moes ontdek dat my siel Afrikaans is. Vandag kan ek net sê Afrikaans was goed vir my. Baie goed. Ek skuld Afrikaans. En ek dink die vreeslikste ding wat ’n mens kan oorkom, is as jy nie in jou eie taal sou kon skryf nie.”

Dalene Matthee (13 Oktober 1938-20 Februarie 2005), bekroonde Afrikaanse skrywer wat veral bekend is vir haar “bosboeke”. Van haar boeke is in 14 tale vertaal en oor ’n miljoen eksemplare is al verkoop.

(Bron: LitNet, 2010-04-11)


“Afrikaans is my avontuur en my vennoot. Sonder Afrikaans is ek stom.”

Elsa Joubert (19 Oktober 1922-14 Junie 2020), bekende Afrikaanse Sestiger-skrywer. Een van haar gewildste werke, Die swerfjare van Poppie Nongena, is in 13 tale vertaal en met etlike pryse bekroon. Spertyd het in 2017 verskyn toe sy reeds 95 jaar oud was.

(Bron: LitNet, 2020-06-23)