Skrywersaanhaling van die week – 14 Desember 2020: Freda Linde, Marié Blomerus, Pieter de Jager

“Moenie sê: ‘Dit is bokant my vuurmaakplek nie.’ Maak die vuurmaakplek hoër op.” 

Freda Linde (12 Desember 1915-7 Maart 2013), een van die mees bekroonde Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywers. Sy vertaal ook kinderboeke in Afrikaans, Frans en Duits.

(Bronne: Goedgeluk. Verjaardagalbum saamgestel deur Audrey Blignault en Alba Bouwer; Wikipedia: https://af.wikipedia.org/wiki/Freda_Linde)


“Nuuskierigheid, besluit ek, terwyl die boorde verbyvlieg, is nes die liefde. Dit dryf jou by die wet van gemiddeldes verby. Jy sal woestyne deurkruis, seë bevaar, selfs die hemelruim trotseer as dit moet; gehawend en voetseer daarvan afkom, maar die ver plekke en die liefde sal jou weer en weer verlei met hulle lokstemme.”

Marié Blomerus (24 Desember 1931 -), Afrikaanse digter en skrywer.

(Bronne: Porseleinskerwe: Herinneringe – Marié Blomerus; LitNet (Resensies), 2020-06-04)


“Hoewel daar nog verskeie dryfjagte sou plaasvind, was die Slag van Roodewal die laaste belangrike veldslag van die oorlog. Volgens Amery het die uitslag van die veldslag boonop die gemoed van die Boereverteenwoordigers by die vredesonderhandelinge swaar getref en hulle motivering beïnvloed.”

Pieter de Jager (24 Desember 1937 -), kenner van die militêre geskiedenis van Suid-Afrika en van kontreigeskiedenis (veral Noordwes); afgetrede boer; skrywer. Sy boek, Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, het in 2018 by Kraal Uitgewers verskyn en kan bestel word by www.kraaluitgewers.co.za.

(Bron: Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902)