Skrywersaanhaling van die week – 15 Junie 2020

Vir my
sê grote woorde niks
en kom slegs ryme
nogal fluks.
Nou bieg ek eerlik voor die nasie:
Ek ken alleen alliterasie.
Ek ken my kennis
plus my grense
en los die dink
vir slimmer mense.
En of dit fraai of goor of gek is,
ek sing maar voort soos ek gebek is.
(Philip de Vos) 

Philip de Vos (16 Junie 1939 – ), oudonderwyser; operasanger; fotograaf; skrywer van Afrikaanse en Engelse kinder- en jeugverhale; skepper van rympies en limerieke. Hy het ook ’n reeks oor klassieke komponiste vir die radio geskryf en aangebied. De Vos het talle pryse en toekennings ontvang, en sy werk is so gewild dat dit selfs op erdewerk verewig word.

“Ek skryf dus – toenemend minder optimisties – omdat ek in volhardende geloof in die boekwaardigheid van boeke vir kinders, tieners en jong volwassenes glo, soos in hulle menswaardigheid.” – Maretha Maartens (22 Junie 1945 – ), bekende skrywer van boeke vir kinders, tieners en jong volwassenes; vryskutjoernalis en -redakteur. Sy skryf ook Christelike lektuur en is met baie pryse vereer, onder andere ook van die Katolieke Kerk in Oostenryk.

(Bron: LitNet Argief, 2014-05-26)