Skrywersaanhaling van die week – 16 November 2020: Christine Barkhuizen le Roux, Carina Stander, Elize Botha, Gerhard Beukes

“Ek lees om te leer (skryf). En ook omdat ek nie anders kan nie – ek is verlief op letters.”

Christine Barkhuizen le Roux (18 November 1959 – ), veelsydige Afrikaanse digter en skrywer (kortverhale en romans); vertaler.

(Bron: LitNet, 2019-02-14)


“Poësie – enige kunsvorm – is relevant wanneer dit die verwondering en vrese van ’n gemeenskap uitbeeld. Of ’n harde werklikheid ontbloot, sodat die gemeenskap homself kan verstaan. Of ’n realiteit van genade te midde van onheil skep, sodat die gemeenskap weer kan hoop. Ek glo die Afrikaanse poësie vermag al hierdie dinge.”

Carina Stander (20 November 1976 – ), Afrikaanse digter en skrywer; beeldhouer; kunstenaar; reisjoernalis.

(Bron: LitNet, 2020-03-12)


“Ek is nie ’n veldmens nie […] Ek is ’n mens vir boeke en boeke bring jou altyd na mense toe. ’n Boek was nog nooit vir my ’n eensame onderneming nie en daarom het dit my eindelose plesier gegee om ’n dosent te wees.”

Elize Botha (19 November 1930-16 November 2007), skrywer; akademikus; literêre kritikus; kanselier van die Universiteit Stellenbosch. Sy het baanbrekerswerk gedoen en talle “eerstes” (veral as vrou) behaal.

(Bronne: “Sandra op ’n drafstap: Onderhoud met prof. Elize Botha”, heruitsending 27 Augustus 2018, Foxwoodfees; Wikipedia: Elize Botha: https://af.wikipedia.org/wiki/Elize_Botha)


“My tyd as dosent was van my vreugdevolste jare, toe ek daarin geslaag het om te doen wat ek die graagste wou doen: om studente te leer hoe om te dink en nie wat om te dink nie.”

Gerhard Beukes (21 November 1913-31 Augustus 1998), bekende Afrikaanse dramaturg; akademikus; samesteller; redakteur; vertaler. Hy het in 1952 die Hertzogprys vir drama ontvang, asook talle ander toekennings.

(Bron: LitNet, 2014-08-21)