Skrywersaanhaling van die week – 2 November 2020: Dan Sleigh, Koos Kombuis, Andre Wessels

“Ek weet hoe geskiedenis op skool doodgemaak word. Ons kyk ons vas teen ons vooroordele en onkunde en ons weet nie watter skatte in argiewe opgesluit lê nie.”

Dan Sleigh (3 November 1938 – ), veelbekroonde skrywer; historikus; gesaghebbende kenner van die vroeë Kaapse geskiedenis en van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC); digter; navorser; versamelaar van skeepsmodelle.

(Bron: LitNet, 2017-10-12)


Ek bring vir jou blomme
Ek gee jou genot
Ek leen jou my bicycle sonder ’n slot
Ek weet dit is al laat
En jou ma-hulle slaap
Maar ek moes net vir jou sé:
“Ek het jou lief, ek het jou lief soos die Kaap.”

(Uit: “Bicycle sonder slot” – Koos Kombuis)

Koos Kombuis (André le Roux du Toit) (5 November 1954 – ), ’n Suid-Afrikaanse kulturele ikoon; skrywer; rubriekskrywer; digter; musikant; kunstenaar.

(Bronne: Koos Kombuis: kooskombuis.com; Versindaba – ’n Kollektiewe weblog vir die Afrikaanse digkuns: https://versindaba.co.za/gedigte/kooskombuis/)


“Hoewel die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) van 2020 net ’n skaduwee is van wat dit was, dien dit steeds Suid-Afrika en sy mense […] hopelik kan dié ryke geskiedenis later op paslike wyse herdenk word.” (Die SALM is die naasoudste lugmag ter wêreld) 

André Wessels (5 November 1956 – ), gerekende historikus; kenner van Suid-Afrika se militêre geskiedenis (veral die Anglo-Boereoorlog) en van die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Weermag, met spesiale verwysing na die SA Vloot; akademikus; skrywer; resensent; ywerige fotograaf.

(Bronne: “SA Lugmag: ’n trotse eeu oud”, Beeld (BY), 19 September 2020; University of the Free State)