Skrywersaanhaling van die week – 21 September 2020: Fanus Rautenbach en Marié Heese

“Ek is op ’n Sondag gebore – my ma het nie tyd gehad in die week nie. Ons het oorkant die tronk gewoon, want die tronk was vol.”

Fanus Rautenbach (23 September 1928-29 Januarie 2011), legendariese radio-omroeper; skrywer van kortverhale, radiovervolgverhale, draaiboeke en ’n verskeidenheid boeke; uitstekende storieverteller; humoris; digter; vertaler. Rautenbach het verskeie toekennings ontvang. In 1979 het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge hom vereer vir sy eiesoortige bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur, en in 2007 is hy aangewys as Radio Sonder Grense (RSG) se legende van die afgelope sewentig jaar.

(Bronne: https://www.litnet.co.za/author/fanus-rautenbach/; www.afrikanergeskiedenis.co.za)


“Mense maak steeds die fout om te dink as ’n student op gespreksvlak taalvaardig is, is hy ook abstrak taalvaardig. Dis hoekom studente so liederlik faal. In hul moedertaal sou hulle abstrakte begrippe op universiteit beter kon hanteer, wat dan ’n trapklip kan word om ook ’n tweede taal abstrak te leer hanteer.”

Marié Heese (27 September 1942 – ), skrywer van romans in Engels en Afrikaans; skrywer en vertaler van verskeie kinder- en jeugverhale; bydraer tot blokboeke, bloemlesings en versamelbundels. In 2011 was sy een van die 15 Suid-Afrikaanse vroue wat deur Solidariteit Helpende Hand vereer is vir haar uitmuntende bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaner-erfenis op kulturele, geestelike en maatskaplike gebied. Sy is ook die dogter van die bekende Audrey Blignault.

(Bronne: Rapport, 21-11-2011; Wikiwand)