Skrywersaanhaling van die week – 23 November 2020: Hettie Smit, Helene de Kock, François Alwyn (F.A.) Venter, Hendrik Stephanus Hertzog (H.S.) van Blerk

“Hoewel ek ook vandag uit die hoogte kan glimlag oor die geesdrif, die dweepsug, die lompheid en sentimentaliteit van daardie bakvissie wat dagboek gehou het, is dit vir my opvallend dat die groot lewens- en kultuurwaardes wat ek toe geleidelik ontdek het, vandag nog vir my vasstaan.”

Hettie Smit (21 November 1908-13 September 1973), Afrikaanse skrywer; deel van die Dertigers. Sy het net een boek, die bekende Sy kom met die sekelmaan, op haar kerfstok, maar word nietemin as ’n baanbreker beskou. Sy het ook die skuilnaam mev. S.J. van Vuuren gebruik.

(Bronne: Nienaber, P.J. Jonger skrywers oor eie werk. Wikipedia: https://af.wikipedia.org/wiki/Hettie_Smit)


“Om te lees is om op ’n reis na dieptes en hoogtes, ruimtes en ver plekke te gaan … Ek dink ’n plek sonder ’n biblioteek is ’n dooie plek … Boeke is myns insiens net so belangrik soos kos. Leerders wat nooit lees nie omdat daar eenvoudig nie boeke beskikbaar is nie, sal later honger ly. ’n Honger van die gees is amper net so erg soos die honger na kos.” 

Helene de Kock (21 November 1943 – ), Afrikaanse skrywer van veral ontspanningsfiksie, maar ook van kinder- en jeugverhale.

(Bron: LitNet, 2019-04-03)


“As ek mense kon laat lag of huil, het ek geslaag.” 

Hendrik Stephanus Hertzog (H.S.) van Blerk (27 November 1915-25 Desember 1910), Afrikaanse skrywer van romans, jeugverhale, kortverhale, feiteboeke en gedigte. Hy gebruik ook die skuilnaam Melt Froneman en ontvang verskeie eerbewyse vir sy bydrae tot die letterkunde en die Afrikanerkultuur.

(Bronne: Wikipedia: https://af.wikipedia.org/wiki/Hendrik_van_Blerk; 28 Augustus 2010: Huldigingsgeleentheid vir oom HS van Blerk: https://ankoren.wordpress.com/2010/09/04/28-augustus-2010-hulde-aan-oom-hs-van-blerk/)


“Familievoëls is klein sondetjies wat iewers vandaan ontsnap het. As Vader Noag geweet het wat ons vandag weet, het hy al die familievoëls destyds in die sondvloed laat versuip. Hulle is vaalgrys vinke met die swart borsies en ‘n onnosel uitdrukking, domastrante, geveerde duiweltjies wat nie aan geboortebeperking glo nie; hulle is ewig oorbevolk.” (Uit: “Op Werfjoernaal se werf”)

François Alwyn (F.A.) Venter (27 November 1916-8 Julie 1997),  bekende Afrikaanse skrywer wat in verskillende genres geskryf het. Hy het die Hertzogprys vir prosa ontvang (1976), asook talle ander eerbewyse. Hy skryf ook onder die skuilname Meiring Fouché, René Stegmann, Marius de Jongh en Elske te Water. Sy boeke word in verskeie tale vertaal, insluitende Duits, Engels, Kwanyama, Nederlands, Noors, Rukwangali, Serwies-Kroaties, Spaans en Sweeds.

(Bronne: Wikipedia; Bo-Karoo: Oor die lewe in Vanwyksvlei deur Leonette Smit: https://karooblog.wordpress.com/tag/f-a-venter/)