Skrywersaanhaling van die week – 24 Augustus 2020

“Ek wil graag na die plek gaan waar mense wat in boekwinkels werk, gekloon word. Dit kan tog net van die wêreld ’n beter plek maak. Nes wat boeke doen.”

Emile Joubert (27 Augustus 1963 – ), bemarkings- en mediakonsultant in die wynbedryf; skrywer; joernalis.
(Bron: Netwerk24, 26-03-2020)


“Want vir my is skryf nie maar net skryf nie – skryf is so deel van my soos asemhaal, dis in my bloed, dit gaan deur my hart kop toe. En daarom sal daar seker (hopelik) altyd weer ’n storie wees wat wag om vertel te word.” 

Irma Joubert (28 Augustus 1947 – ), Afrikaanse skrywer, veral bekend vir haar bekroonde historiese romans. Van haar werk is ook in Nederlands, Duits en Engels vertaal.
(Bron: LitNet, 2018-12-20)


“Skrywers en ander kunstenaars moet van buite kan inkyk, maar ook van binne af uit. ’n Mens skryf moeilik oor die dinge waarvan jy nie kennis of ervaring het nie. Daarom kan jy nie op die periferie bly staan nie.” 

Jan van Tonder (29 Augustus 1954 – ), hoofsaaklik skrywer van romans, maar hy beoefen ook ander kreatiewe genres, soos poësie, draaiboeke, joernalistiek, skilderkuns en uitsaaiwese. Hy het twee toekennings ontvang vir sy boek Die kind.
(Bron: LitNet, 2020-05-05)