Skrywersaanhaling van die week – 25 Mei 2020

Danie Marais (30 Mei 1971 – ), bekroonde Afrikaanse digter; kortverhaalskrywer; omroeper:

“Om Afrikaans te praat en te skryf, is vir my om na die Johnny Cash-weergawe van myself te luister. Of dit groot kuns is, weet ek nie en die stem en die opname krap ’n bietjie, maar dis die naaste aan die intieme essensie van die liedjie van my lewe.” 

(Bron: LitNet, 2019-06-13)

 

Theunis Theodorus (T.T.) Cloete (31 Mei 1924-29 Julie 2015), bekende bekroonde Afrikaanse digter; Bybelvertaler; omdigter van kerkliedere; akademikus; letterkundige en wetenskaplike navorser. Hy is ook beskryf as “’n man van boeke, van alle soorte kennis en nadenke”.

Oor die inligtingsontploffing sê T.T. Cloete: “Enersyds bevorder die rekenaar die literatuur omdat ek binne sekondes alles wat ek wil weet van byvoorbeeld Shakespeare kan oproep, maar andersyds maak die tegnologie mense kyklustig pleks van leeslustig en baie haastig om inligting te bekom. Maar die literatuur sal hom aanpas. Die boek sal nie verdwyn nie. Van Homeros se tyd tot vandag het baie ontwikkeling plaasgevind en die boek het steeds nie verdwyn nie.” 

(Bron: LitNet, 2015-08-18)