Skrywersaanhaling van die week – 26 Oktober 2020: Wilhelm Knobel, Karel Schoeman, A.S. (Ampie) van Straten

Hoe meer ek sukkel om die stilte oop te wurg
hoe vaster gly dit af in my keel
Leen vir my ’n paar van jou reëls
– dit lyk my hulle kom so ongevraag –
dan beur ek met skigtige hoeke
die deksel op wat altyd digter oor my sluit

(Uit: Tweede brief aan Breyten  – Wilhelm Knobel)

Wilhelm Knobel (26 Oktober 1935-4 Januarie 1974), Afrikaanse skrywer; digter; musikus. Hy het bipolêre gemoedstoornis gehad en is op 39-jarige ouderdom oorlede.


“Al wat saakmaak met die skryf, meen ek, is dat die skrywer deur die boek […] met ’n enkele leser kontak maak, tot hom of haar spreek en vir hulle persoonlike betekenis het, en hoe meer dikwels so iets plaasvind, des te meer vervullend is dit vir die skrywer, in elk geval vir my.”

Karel Schoeman (26 Oktober 1939-1 Mei 2017), bekroonde romanskrywer; historikus; biograaf; vertaler.


“Afrikaans kan kort en kragtig wees en treffend kommunikeer – dit hang af wie hom hanteer – soos Afrikaanse reklameskrywers elke dag demonstreer.”

A.S. (Ampie) van Straten (30 Oktober 1937-29 April 1997), Afrikaanse skrywer; dramaturg; kopieskrywer; akademikus
(Bron: LitNet, 2014-12-16)