Skrywersaanhaling van die week – 27 Julie 2020

“Resensente doen van die verantwoordelikste werk (kom ons neem aan hulle doen hul werk goed) in die letterkunde. Benewens die broodnodige kontekstualisering en inweef in ʼn groter letterkunde, het resensente ook die geleentheid om (subtiel) te waarsku, te por, te twyfel en soms gewoon te jubel. Nie te ontmoedig nie, maar, soos [André P.] Brink, in dié geval raad te gee wat my nou nog bybly.

Johan Myburg (17 Julie 1957 – ), gekwalifiseerde predikant; skrywer; kunskritikus; joernalis en bekroonde digter. Hy ontvang in 2020 die Hertzogprys vir sy digbundel Uittogboek.

(Bron: LitNet, 2020-06-11; LitNet, 2015-06-03)


“’n Boek is, soos ‘n mens, tweehandig. Hy kan aanvat en hy kan aangee daarom is hy van alle dooie dinge seker die lewendigste op aarde.”

Petra Müller (27 Julie 1935 – ), joernalis; uitgewer; Afrikaanse digter en skrywer. Sy ontvang onder meer die Hertzogprys (2005) vir poësie.

(Bron: LitNet, 2014-06-03)


“Die lewe bestaan mos uit bestemmings, uit drome en werklikhede, uit verbeel en ervaar. En ek dink selfs die ewigheid is ’n reis vol lig tussen die sterre.”

Izak (I.L.) de Villiers (30 Julie 1936-27 September 2009), bekende predikant van die NG Kerk; skrywer; digter; redakteur. Hy het verskeie toekennings ontvang, veral vir sy bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse kultuur en vir sy geestelike publikasies.

(Bron: LitNet, 2017-04-20)