Skrywersaanhaling van die week – 6 Julie 2020

“’n Mens se eie biblioteek is jou beste verskansing teen eensaamheid, teen die aanslae wat die lewe bring. In tye van verdriet en vertwyfeling kon ek my nog altyd tot my boeke wend en daar die vertolking van my ervaring vind.” (Uit: Die goue vreugde: ’n Keur uit jare se leesgenot)

Audrey Blignault (6 Julie 1916-1 Oktober 2008), geliefde Afrikaanse skrywer, veral van sketse, essays en kortverhale; joernalis; tydskrifredakteur; aanbieder van verskeie radioprogramme, onder meer “Vrouerubriek”. Sy was ook die groot gees agter die stigting van leeskringe. Sy ontvang talle toekennings en eerbewyse. Haar enigste dogter, Marié Heese, is ook ’n skrywer.


“Om met ’n goeie gedig te werk, kwit jong, dis soos om ’n volbloedperd in te breek, as jy sien wat daar uitkom.” (Bron: LitNet, 2014-09-23)

– Hendrik van der Merwe Scholtz (8 Julie 1924-12 Januarie 2005), akademikus; digter; letterkundige kritikus en ontleder; samesteller; redakteur. 


“Die geskiedenis van die wêreld en van ons eie volk bied oorvloedige getuienis van hopelose situasies wat teen alle verwagtinge en menslike berekeninge in, omgekeer is.” (Uit: Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog)

Andries Engelbertus Breytenbach (10 Julie 1947 – ), oudmilitaris; kultuurmens; kenner van Afrikanergeskiedenis; skrywer van die genoemde boek (nou beskikbaar by Kraal Uitgewers: www.kraaluitgewers.co.za).