Skrywersaanhaling van die week – 9 November 2020: Chris Karsten, Marlene van Niekerk, Jan Rabie

“Soos wat ek elke dag skryf, maak ek ook elke dag tyd om te lees. Ek volg die premis van: as jy nie lees nie, kan jy nie skryf nie.” 

Chris Karsten (9 November 1947 – ), bekroonde Afrikaanse skrywer; joernalis; koerantredakteur. Hy is veral bekend vir spanningsromans en misdaadfiksie, maar het ook jeuglektuur op sy kerfstok. Hy woon deesdae in Kanada.

(Bron: LitNet, 2017-03-02)


“Ek begeer dit met my hele hart en hele verstand om voltyds te skryf. Ek sou iets in my moedertaal wou staanmaak wat vatbaar sou wees vir meer as een keer lees en miskien deur meer as een generasie se lesers.”

Marlene van Niekerk
(10 November 1954 – ), veelbekroonde Afrikaanse skrywer en digter. In 2015 is sy op die kortlys van die internasionale Man Booker-prys vir haar opspraakwekkende boeke Triomf en Agaat, asook Memorandum. Van haar boeke is ook in Engels, Nederlands en Frans vertaal.

(Bron: LitNet, 2015-06-18)


“Die letterkunde vereis ’n oorwoë en taalsekere worsteling om die mens en sy waardes binne watter sosiale omgewing ook al.” (Uit: “Toekomsfiksie”,)

Jan Sebastian Rabie (14 November 1920-15 November 2001), bekende Sestiger en produktiewe skrywer van kortverhale, romans en ander literêre werke.

(Bronne: Hutspot: Reissketse, verhale, essays, praatjies; Wikipedia: https://af.wikipedia.org/wiki/Jan_Rabie)