Spioenvrou met murg in haar pype

Deur Ilze Nieuwoudt

Johanna van Warmelo (ná haar huwelik met ds. Louis Brandt bekend as Johanna Brandt).

Danksy Hollywood, James Bond-verhale en ’n magdom spanningsvolle spioenasieverhale waarmee die mens gebombardeer word, is die begrip “spioen” ’n mistieke en benydenswaardige gedagte. Tog is die realiteit van spioenasie dikwels nie so glansryk nie. Wie sou kon raai dat ’n Boerevrou in haar vroeë 20’s, en haar ma as lede van ’n geheimediens vandag – meer as 115 jaar later – steeds as Suid-Afrika se bekendste spioene gereken sou word?

Johanna van Warmelo (ná die oorlog bekend as Johanna Brandt) en haar weduwee-moeder, Maria, het gedurende die Anglo-Boereoorlog daarin geslaag om nie net basiese inligting oor die oorlog die wêreld in te stuur nie, maar om as volwaardige, aktiewe spioene op te tree en waardevolle besluite na onder andere Paul Kruger in Nederland te smokkel. Die ligging van hul woning op die plot Harmonie in Sunnyside, Pretoria, was ideaal geplaas vir die insameling van lewensnoodsaaklike inligting wat die Boerekommando’s in hul stryd teen die Britte gehelp het.

Prominente en selfs nietige stukkies inligting oor die oorlog en Johanna se betrokkenheid by die geheimediens het in haar omvangryke dagboeke behoue gebly wat vandag nog in die argief van die Hervormde Kerk bewaar word. Dit beslaan ’n totaal van sowat ’n duisend bladsye in sewe volumes. Haar aanvanklike inskrywings vertel van die uitbreek van die oorlog, die inname van Pretoria en die daaropvolgende parades op Kerkplein (wat sy self bygewoon het) sowel as haar ervaring as vrywillige verpleegster by die Irene-konsentrasiekamp buite die stad.

Dinge het in die winter van 1901 egter ’n wending geneem toe haar pad met dié van Willem Botha en kaptein J.J. Naudé gekruis het. Naudé is in Junie deur generaal Louis Botha as die hoof van die “speciale diensten” aangestel met die doel om inligting aan kommando’s te voorsien. Volgens dr. Jackie Grobler en Rita van der Merwe van die se departement geskiedenis en kultuurgeskiedenis, Universiteit van Pretoria het dié groep van nie-vegtende mans en vroue se diens in Pretoria gebruik gemaak. Dié Pretoriase groep het later as die “Geheime Diens Kommissie” bekendgestaan.

In Julie besoek Willem Botha die Van Warmelo’s vir die eerste keer. Sy opdrag – om ’n belangrike boodskap aan Maria oor te dra. So ontvang hulle hul eerste opdrag om ’n besluit van die Boeregeneraals na Kruger en spesiale gesant dr. W.J. Leyds deur te smokkel. Die boodskap was eenvoudig, maar kragtig. Die Boeregeneraals het te velde besluit om “schouder aan schouder te staan tot de onafhanklikheid herwonne zou zijn”. Van der Merwe en Grobler se artikel oor die werk van Johanna Brandt wat in 1999 in die Literator-tydskrif verskyn het, stel die gevare van dié taak wat die moeder en dogter opgeneem het duidelik: “Die Van Warmelo’s was nou in die gevaarlikste bedrywighede van die oorlog gedompel: waar dit met die onskuldige deursmokkel van oorlogsnuus begin het, het hulle nou volwaardige spioene geword – ’n nog gevaarliker stap. Skuldigbevinding aan spioenasie in oorlogstyd was immers met die dood strafbaar.”

In die maande wat ná hul ontmoeting met Willem Botha gevolg het, het veral Johanna aktief inligting ingesamel en deurgegee. ’n Uitsonderlik moeilike opdrag was om ’n spoorwegtydtafel, met waardevolle inligting oor die Britte se militêre treine, te kry.

Die skokkende nuus dat groot dele van die Pretoriase spioenasienetwerk later in 1901 deur medespioene oopgevlek is, het die Van Warmelo’s benoud gemaak. Hul betrokkenheid is egter nie onthul nie, waarna Johanna besluit het om ’n nuwe netwerk, bestaande uit vroue, op die been te bring. Nuus is uit die buiteland versamel en aan die kommando’s deurgegee en skuiling is tydens besoeke deur die nou gesoekte spioen Naudé verleen.

Kort voor die einde van die oorlog, nadat dit al byna onmoontlik geword het om inligting te bekom en te versprei, het Johanna na Europa vertrek, waar haar verloofde, die predikant Louis Brandt, gewoon het. Tog was haar bydrae gedurende die oorlog van onskatbare waarde. Sekere van haar briewe en dagboeke is op ’n legendariese wyse in suurlemoensap geskryf met die inhoud daarvan onsigbaar totdat dit aan hitte (gewoonlik van ’n strykyster) blootgestel was.

Ná die oorlog, in 1911, het Johanna ’n boek oor haar ervarings van die Irene-konsentrasiekamp, getiteld Het concentratie-kamp van Irene, geskryf. Later sou nog ’n boek, hierdie keer oor haar betrokkenheid by die spioenasienetwerk in Pretoria, die lig sien. Dit is oorspronklik in Engels en Nederlands uitgegee onder die titel The petticoat commando en Die Kappiekommando. Teen 1958 is ’n Afrikaanse weergawe uitgegee. Intussen het verskeie ander boeke oor Johanna se aktiwiteite gedurende die oorlog die lig gesien – waaronder The Anglo-Boer War diary of Johanna van Warmelo (Brandt) met voetnote deur Jackie Grobler.

Jare het al sedert Johanna-hulle se opspraakwekkende spioenasie verloop, maar die belangstelling in haar werk en die nou legendariese Kappiekommando duur voort.