Storietyd in die tyd van Covid

“Kom sit hier op my skoot en dan lees ons ’n storie.” Dié woorde is hemels in die Covid-generasiekind se ore. In ’n tyd waarin fisieke kontak tussen onderwysers en kinders en skoolmaats onderling taboe is, is ekstra emosionele aandag tuis soveel meer werd as duur speelgoed of luukse vakansies.

Wietske Boon is ’n spesialisberader wat haar toespits op speelterapie met veral jong kinders. Sy is ook die skrywer van die kinderboek Die virus in die woud en hou vol dat jong kinders nie net smag na fisieke kontak nie, maar dit ook broodnodig het in die nuwe normaal wat die Covid-19-pandemie geskep het. Die emosionele las wat die pandemie op klein kinders geplaas het, is enorm en volgens Boon ervaar hulle dikwels oorweldigende emosies. Woedeuitbarstings, oormatige huilerigheid en selfs fisieke simptome soos maag- en hoofpyn is in hierdie tyd dikwels tekens van dit wat in kinders se emosies aangaan, verduidelik Boon in ’n webinaar wat onlangs deur S-Leer aangebied is. (Luister die volledige gesprek hier.)

Ten spyte van die tientalle uitdagings wat Covid-19 op gesinne en jong kinders in die besonder plaas, is daar raad, verduidelik Boon. Hier is drie van haar treffende wenke:

  1. Gebruik poppe- of rollespel met die kleinspan tydens hul speeltyd. Deur byvoorbeeld rolle tussen ouers en kinders om te ruil, kan kinders aan ouers sekere kwessies verduidelik, soos die belangrikheid van goeie higiëne.
  2. Erken hul emosies. Vermy uitdrukkings soos “Moenie bang wees nie” of “Moenie kwaad wees nie”. Dit, meen Boon, toon slegs dat die ouer nie sy/haar kind se emosies verstaan nie. Help hulle eerder om uiting te gee aan die emosies (spring saam trampolien of skop ’n bal), of praat gewoon oor die emosies wat die kind ervaar.
  3. “Kom sit op my skoot en dan lees ons ’n storie.” Knyp die tyd af en lees vir jou kind ’n storie, sê Boon. Die fisieke kontak, die veiligheid wat ’n ouer bied én die saamlees sal wondere verrig vir die hervul van ’n kind se emosionele beker. 

Kom lees saam aan Die virus in die woud

Volgens Boon kan “enige onderwerp deur ’n storieboek verduidelik word. Dit kan kinders voorberei op elke lewensgebeurtenis en selfs trauma verminder”. Juis daarom het sy besluit om te midde van die wêreldwye Covid-19-pandemie ’n kinderboek, Die virus in die woud, te skryf.

Die virus in die woud (met illustrasies deur Jokie Boshoff) vertel die verhaal van Covid-19 soos ervaar deur die liefdevolle dierekarakters in die groenste woud. Wat is ’n virus? Wat beteken isolasie? En wat doen die diere om hulself teen die virus te beskerm? Dié en talle ander kwessies word in Die virus in die woud op ’n kindervriendelike manier aan jong lesers bekend gestel. Die boek bevat ook verskeie aktiwiteite.

Die virus in die woud is HIER beskikbaar by Kraal Uitgewers teen slegs R140.