Straatnaam-herrie: Andries, Voortrekker en kie word in die pad gesteek

Deur Ilze Nieuwoudt

“Neem E’skia Mphahlele en ry suid, ry dan oor WF Nkomo tot by Nana Sita en draai links. Ry dan tot by Kgosi Mampuru.” Wat voorheen eenvoudige aanwysings sou gewees het (ry van DF Malan-rylaan, oor Kerkstraat tot by Skinner- en dan tot by Potgieterstraat in Pretoria), is nou vir meeste Pretorianers ‘n tameletjie. Helaas – die ou bekende straatname is  onlangs saam met meer as 20 ander in dié stad verander en sorg reeds vir ʼn Babelse verwarring en woede onder die stad se inwoners. Maar wie was hierdie mense aan wie se nagedagtenis Pretorianers so vasklou en wie is die nuwe “helde” wat in die plek hiervan inneem? Ilze Nieuwoudt van Kraal Uitgewers het gaan uitvind na wie ʼn paar van die strate vernoem is.

Hans Strijdomrylaan – Solomon Mahlangu

Johannes Gerhardus Strijdom, oftewel J.G. Strijdom, was ook bekend as die Leeu van die Noorde omdat hy so ʼn geharde politieke opponent was. Gedurende sy termyn (1954 – 1958) as eerste minister van die Unie van Suid-Afrika het hy onder meer hard geveg vir die totstandkoming van die Republiek.

Hans Strijdomrylaan, een van die prominentste roetes in die ooste van Pretoria, is na J.G Strijdom vernoem, maar die naam moes nou plek maak vir Solomon Mahlangurylaan. Mahlangu is gebore te midde van Strijdom se termyn in 1956. In 1976 sluit hy by die ANC aan en verlaat die land om opgelei te word as ʼn Umkhonto weSizwe-vegter. In 1977 is hy en twee makkers betrokke in ʼn skietgeveg met die polisie waartydens hulle twee burgerlikes doodgeskiet het. Vir dié moorde en terrorisme is Mahlangu verhoor, ter dood veroordeel en op 6 April 1979 word hy die eerste ANC-aktivis wat vir sy misdade gehang word..

Generaal Louis Botha-rylaan – January Masilela

Louis Botha word in 1910 die eerste eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, maar het reeds sy merk tydens die Anglo-Boereoorlog gemaak in die slagtings van Colenso en Spioenkop. Hy het ook tydens die oorlog saam met Koos de la Rey en Christiaan de Wet die guerrilla-veldtog gevoer. Hy was later betrokke by die ondertekening van die Vrede van Vereeniging en het ná die oorlog ʼn prominente rol in die heropbou van die land gespeel.

Generaal Louis Botha-rylaan, wat onder meer Lynnwoodweg met Atterbury en Hans Strijdom-rylaan in die ooste van Pretoria verbind, is nou hernoem na January Masilela-rylaan. Masilela was gedurende die apartheidsjare ʼn uitgewekene in onder meer Angola en Kuba. Hy het in 1975 by die ANC aangesluit en is opgelei as ʼn MK-vegter en is later aangestel as kommissaris van die MK-hoofkwartier in Angola. Hy was tot en met sy dood in 2008 die sekretaris van verdediging (hoof van die Departement van Verdediging).

Kerkstraat – Stanza Bopape, Helen Joseph, W.F. Nkomo en Elias Motsoaledi

As hoofstraat is Kerkstraat waarskynlik die prominentste straat in Pretoria. Nie net is dit een van die langste paaie in die land nie (wat strek van Atteridgeville in die weste tot Colbyn in die ooste), dit is die vertoonvenster vir verskeie historiese geboue en was getuie van verskeie gebeure soos onder meer die Kerkstraat-bomontploffing van Mei 1983 waarin 19 mense dood is. Hierdie historiese straat word nou as vier afsonderlike strate beskou en sal voortaan bekendstaan as Stanza Bopape (van Nelson Mandela-rylaan ooswaarts), Helen Joseph (van Nelson Mandela-rylaan tot by Kerkplein), W.F. Nkomo (van Kerkplein tot by die R511) en Elias Motsoaledi (van R511 naby Hartbeespoort weswaarts).

Stanza Bopapestraat is vernoem na Johannes Maisha (Stanza) Bopape. Hy was ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Studente-organisasie, ANC-lid en politieke aktivis wat in die 1980’s deur die sekuriteitspolisie aangekeer is aangesien hulle hom as ʼn sekuriteitsrisiko beskou het. Hy is uiteindelik in Junie 1988 aangekeer en is in polisie-aanhouding dood.

Helen Josephstraat is vernoem na Helen Beatrice May Fennel. Sy is in 1905 gebore en het in 1930 van Engeland na Suid-Afrika verhuis. Sy was onder meer die stigter van die Congress of Democrats en was een van die organiseerders van die optog van vroue in Augustus 1956. Sy is dieselfde jaar aangekla van hoogverraad en is uiteindelik in 1962 onder huisarres geplaas.

W.F. Nkomostraat is vernoem na William Frederick Nkomo wat onder meer ʼn dokter, onderwyser, president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge en voorsitter van die ANC-Jeugliga se uitvoerende komitee was. Hy het vroeg in sy loopbaan by die ANC aangesluit, maar is geskors weens sy militante oortuigings in ʼn tyd waarin die ANC nie geweld voorgestaan het nie.

Elias Motsoaledi, na wie ʼn deel van wat voorheen as Kerkstraat bekendgestaan het nou vernoem is, was deel van die ANC-groep wat in die Rivonia-verhoor aangekla is. Hy is tydens die verhoor skuldig bevind en het 26 jaar tronkstraf op Robbeneiland uitgedien. Hy was lid van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en die ANC en het ook vir MK gewerk.

Nog veranderinge:

  • Beatrix-, Mears- en Voortrekkerweg – Steve Biko.
  • Charles- en Walkerstraat – Justice Mohammed
  • DF Malan-rylaan – E’skia Mhahlele
  • Duncanstraat – Jan Shoba
  • Esselenstraat – Robert Sobukwe
  • Hendrik Verwoerdrylaan – Johan Heyns
  • Jacob Marestraat – Jeff Masemola
  • Leah Mangopestraat – Peter Magano
  • Lucas Mangopestraat – Molefe Makinta
  • Michael Brinkstraat – Nico Smith
  • Mitchellstraat – Charlotte Maxeke
  • Potgieterstraat – Kgosi Mampuru
  • Prinsloostraat – Sisulu
  • Proesstraat –  Johannes Ramokhoase
  • Koningin Wilhelmina-straat – Florence Ribeiro
  • Schoemanstraat – Francis Baard
  • Schubartstraat – Sophie de Bruyn
  • Skinnerstraat – Nana Sita
  • Van der Waltstraat – Lilian Ngoyi
  • Vermeulenstraat – Madiba
  • Zambesirylaan – Sefako Makgatho