Top historici by ABO-boekbekendstelling in Bloemfontein

Twee van Suid-Afrika se mees vername historici, proff. André Wessels en Andries Raath, sal eerskomende Saterdag 23 Junie by die bekendstelling van Kraal Uitgewers se nuwe boek oor die Anglo-Boereoorlog in Bloemfontein optree. Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 is die nuutste boek deur die historikus Pieter de Jager en is die laaste boek in Kraal Uitgewers se Erwe van ons vaad’re-reeks. Wessels, ’n senior professor in geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat en gerekende kenner van die militêre geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog, sal tydens die bekendstelling in gesprek wees met De Jager en die reeksredakteur, Raath.

Die bekendstelling word gehou by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein en die publiek word uitgenooi om die geleentheid by te woon. Verrigtinge begin om 09:30 vir 10:00. (Klik hier om bywoning te bevestig.) Tydens die geleentheid sal die 2018 Herdenkingsrit ook bekendgestel en afgeskop word. Nege ruiters sal aan hierdie perderit tussen Bloemfontein en Kimberley deelneem en hiermee bewusmaking oor die geskiedenis van die area skep. Die groep se roete sal volg deur onder meer Jacobsdal (waar generaal Koos de la Rey se seun gedurende die oorlog gesterf het), Magersfontein (waar die bekende slag in Desember 1899 plaasgevind het) en Kimberley (waar die beleg van Oktober 1899 tot Februarie 1900 plaasgevind het). Dié gebeure word elkeen in detail in Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog ondersoek. Die boek plaas hernieude fokus op talle van die bekendste gebeure van die oorlog in die Wes-Transvaal, maar diep ook verskeie nuwe en voorheen onbekende feite oor die oorlog in dié geharde landskap op.

Volg die ruiters se vordering en herontdek saam met dié span die ryke geskiedenis van die gebied. Klik hier vir meer inligting oor dié rit. Bly op hoogte van gebeure by www.kraaluitgewers.co.za of op die groep se Facebook-blad @Herdenkingsritte. Kraal Uitgewers en AfriForum is trotse borge van vanjaar se rit.

Klik hier vir meer inligting oor Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 of om die boek aanlyn te bestel.