Treinvernielers van die ABO

Ilze Nieuwoudt

“Oorlog is ’n opsomming van flaters.” Dié woorde van die destydse Britse eerste minister Winston Churchill is in talle opsigte in die kol. Ironies genoeg is die gebeure wat dié latere staatsman se gevangeneming in die Anglo-Boereoorlog voorafgegaan het, tog alles behalwe flaterryk. Dit was eerder ’n bewys van die Boere se vernuf en ondernemingsgees wat gelei het tot die ontsporing van die trein waarop Churchill – en t

alle ander – gereis het. Treinvernielers: Boereaanvalle op en vernietiging van treine, stasies en spoorlyne in die ZAR tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 deur Tian Schutte en Peet Coetzee vertel die volle verhaal.

Die Anglo-Boereoorlog is bekend as ’n oorlog waartydens konvensionele oorlogvoering onvoldoende geblyk het. Die Boere van die ZAR en OVS – met generaal C.R. de Wet aan die spits – het later tot guerrillaoorlogvoering oorgegaan waartydens allerlei metodes ingespan is om die Britte lam te lê. In Treinvernielers val die fokus op die tientalle aanvalle wat Boere op treine, treinspore en stasies uitgevoer het sedert die aanvang van die guerrillaoorlogfase van die oorlog wat in Oktober 1900 begin het. Coetzee bestempel die Boerekrygers verantwoordelik vir dié aanvalle as ’n keurbende, “’n groepie gewone burgers wat in ’n oorlogsituasie ontluik het in ’n hoogs gespesialiseerde masjien”. Dié groep se doel was hoofsaaklik om die Britte se noodsaaklike spoorverbindings te beskadig en sodoende die Britte

se opmars en vervoer van voorrade te belemmer.

Verskeie vernuftige tegnieke is deur die “keurbende” ingespan om treine te ontspoor, naamlik die gebruik van relatief primitiewe middele, soos om klippe op die spoorlyn te pak of die verwydering van spoorstawe. Meer innoverende tegnieke is ook toegepas, soos die gebruik van metaalwiggies om die spoorlyn krom te trek, die aanwending van ghries, die ontkoppeling van treine se vakuumremme (wat swaar gelaaide treine teen afdraandes in die moeilikheid laat beland) en selfs die gebruik van dinamiet in spoorlynmyne.

Treinvernielers bied ’n breedvoerige geskiedenis van die aanvalle sowel as die persone wat deel was van die gedugte treinvernielerspanne – manne soos kaptein Jack Hindon en luitenant Henri Slegtkamp. Die boek word ingelei met ’n waardevolle geskiedenis oor die ontstaan van die spoorweë in die ZAR sowel as ’n oorsig oor die uitbreek van die oorlog. Die honderde foto’s (sommige kundig digitaal “ingekleur” en hermeester), handige kaarte sowel as ’n volledige chronologiese bylaag waarin elke gedokumenteerde aanval gelys en bespreek word, maak van Treinvernielers enig in sy soort en ’n waardevolle bydrae tot die dokumentering van die Anglo-Boereoorloggeskiedenis.

Treinvernielers is ’n selfpublikasie deur die skrywers, en beskikbaar by Kraal Uitgewers teen R480. Klik hier vir meer inligting of om die boek te bestel.