Treurgrond binnekort op die grootskerm

treurgrond-binnekort-op-die-grootskermSedert die eerste Treurgrond-boek ʼn paar jaar gelede deur Kraal Uitgewers uitgereik is, het die debat oor plaasaanvalle merkbaar toegeneem. Intussen is ʼn tweede uitgawe, waarin meer as 3 300 aanvalle gelys is, verlede jaar bekendgestel waarin meer breedvoerig oor die bittere hartseer en verlies vanweë plaasaanvalle geskryf is.

Nou gaan die werklikheid van plaasaanvalle nog ʼn prominente plek in die geskiedenisboeke inneem met die vervaardiging van ʼn nuwe rolprent ook getiteld Treurgrond. Dié rolprent, wat deur die rolprentvervaardigers Phoenix Films gemaak word, word tans verfilm en sal na verwagting teen Mei 2015 in teaters begin wys. Steve Hofmeyr vertolk die hoofrol en Darrell Roodt is die regisseur. Roodt is veral bekend as regisseur van verskeie trefferprente insluitende Sarafina! en Jakhalsdans. Hy is ook onder meer in 2004 vir ʼn Oscar-toekenning benoem vir die rolprent Yesterday

In ʼn onlangse onderhoud met Rapport vertel Hofmeyr dat hy voel dat Treurgrond “kykers ʼn kans gee om die hand in eie boesem te steek.”

“Vandat jy gaan sit en die fliek begin, hoef ons nie vir jou te vertel van die onheil nie, want dit broei al lankal. My karakter is ʼn gewone boer, soos die ander, wat nie verwag dat sy plaas volgende aangeval gaan word nie,” het hy aan Rapport vertel.

Volgens Roodt is dit vir hom baie belangrik om kykers met hierdie rolprent aan die dink te kry.

  • Treurgrond (boek) is tans teen ʼn spesiale afslagprys by Kraal Uitgewers beskikbaar teen slegs R300, R40-posgeld uitgesluit. (Normale prys is R350.) Klik hier om van dié aanbieding gebruik te maak.

Meer oor Treurgrond – die rolprent

Phoenix Films som dié rolprent oor plaasaanvalle soos volg op:

Treurgrond vertel die verhaal van ʼn boerderygemeenskap in Suid-Afrika wat probeer om die talle plaasaanvalle te oorleef. Hierdie grusame aanvalle raak nie net die regstreekse slagoffers nie, maar veroorsaak ʼn hele kettingreaksie. Te midde van die druk en angs oor die toenemende aantal plaasaanvalle probeer Lukas van Staden sy familie, vriende en plaas beskerm.

Treurgrond kyk na ʼn wêreld waar verhoudings, verwyte, wraak en vergifnis byeengebring word deur een gebeurtenis – ʼn gebeurtenis waaruit hoop en heling spruit. As een plaasaanval so ʼn groot impak op ʼn gemeenskap kan hê, wat van al die aanvalle waarvan ons nooit hoor nie?”