U koninklike hoogheid, prins William

’n Brief deur die uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann, aan die Britse koninklike prins William, is vandag by die Forum Films-ateljee in Pretoria bekendgestel. Dié brief sal in November vanjaar as deel van ’n nuwe Kraal Uitgewers-publikasie getiteld Basta, vat jou goed en bou: Twintig jaar van Solidariteit uitgegee word. Hier volg die kort weergawe van dié brief wat oorspronklik op Solidariteit Wêreld gepubliseer is. Die volledige brief is hier beskikbaar.

U is die pa van ’n seun, prins George, en ’n dogter, prinses Charlotte, onderskeidelik vier en twee jaar oud. Net soos u is ek ook ’n pa. Soos u en u eggenote, Catherine, is ek en my vrou, Elsha, lief vir ons kinders, Marisha (15), Minè (13), Elzaan (10) en Hanri (7).

In die jaar 1900 was u grootouma, Victoria, ’n koningin en my grootouma, Hester, ’n doodgewone boervrou.

Ons grootjies is al twee in 1901 gedurende die laaste jaar van die Anglo-Boereoorlog, wat van 1899 tot 1902 geduur het, oorlede. Myne is dood weens die haglike toestande in ’n konsentrasiekamp en u grootjie as gevolg van haar rype ouderdom.

U grootjie skryf in haar joernaal dat die jaar 1900 vir haar ’n verskriklike jaar was. Haar lieflingkleinseun, prins Christian Victor, het tydens die Anglo-Boereoorlog aan maagkoors gesterf.

U grootouma het ’n besondere betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog gehad. Vir Kersfees 1900 het sy 100 000 blikkies met sjokolade aan haar soldate gestuur. Sy het self agt serpe gehekel wat aan die veelsydigste soldate wat aan die Suid-Afrikaanse veldtog deelgeneem het, gegee is.

Die aand voor jou grootjie se dood op 21 Januarie 1901, was sy nouliks by haar bewussyn toe sy vir haar dogter, prinses Beatrice, gevra het: “Wat gaan deesdae in Suid-Afrika aan?”

My oumagrootjie Hester se storie is ’n storie oor wat toe werklik in Suid-Afrika aan die gang was – stories wat waarskynlik nie aan u grootouma vertel is nie.

My grootjie was getroud met Marthinus en sy het ook kinders gehad, waarvan Petrus en Christina die jongstes was.

Die oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek en gedurende die daaropvolgende bykans drie jaar is sowat 500 000 Britse soldate vir die stryd gemobiliseer. Dit was in daardie stadium die grootste oorsese mobilisasie nóg in Engeland se geskiedenis en is gevoer teen een van die kleinste volkies ter wêreld.

Teen Junie 1900 het Engeland gemeen die oorlog was uiteindelik verby toe die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, en die hoofstad van die ZAR, Pretoria, ingeneem is. Die Boere het guerrillavegters geword.

In Europese oorlogsdenke was dit ʼn totaal onverklaarbare verskynsel. ’n Desperate Joseph Chamberlain, die destydse minister van kolonies, het verklaar: “The war office declared that the international law for European or civilised nations could not be applied to the Boers, as they were worse than inferior Africans.”

Dit het gelei tot die verskroeideaardebeleid en konsentrasiekampe. Onlangse navorsing toon dat nagenoeg 34 000 Boerevroue en -kinders in en op pad na die konsentrasiekampe dood is – sowat 65% hiervan was kinders van 16 jaar en jonger. Die Havenga-verslag het die ergste vorme van verkragting en seksuele geweld teen vroue en dogters in die kampe aan die lig gebring.

My oumagrootjie en haar twee klein kindertjies, Petrus en Christina, is soos vee op oop treintrokke sonder toiletgeriewe vanaf Rustenburg na die Irene-kamp vervoer. Daar was sowat 5 600 mense in die kamp. Uiteindelik het 1 163 mense in dié kamp omgekom.

Petrus is dood in die kamp. Sy laaste woorde was: “Mamma, ek is honger.” Daar was nie ’n kissie vir klein Petrus nie en hy is in ’n kombersie begrawe.

Die oorlog het ook rasseverhoudinge in Suid-Afrika vir altyd verander. Ongeveer 120 000 swart soldate, waarvan tussen 30 000 en 50 000 gewapen was, het aan Britse kant aan die oorlog deelgeneem. Later is die swart soldate ingespan om die verskroeideaardebeleid uit te voer. Dit het ’n weersin laat ontstaan. Aan die ander kant was daar lojale swart werkers wie se huise ook afgebrand is en wat ook na konsentrasiekampe gestuur is.

So was die jaar 1901 ook ’n traumajaar vir die groter Seko-familie. Ses lede van die familie, waaronder vier kinders – Andries (3), Anna (4), Groeta (3) en Raiu (2) – asook Maria (70) en Sannie (70) het in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp omgekom.

Ná die oorlog het die Boere stadigaan begin terugkeer na hul land en grond. Vroue is alleen terug plaas toe. Alles was afgebrand en karkasse het oor die plase verstrooi gelê.

Die Boere het egter op indrukwekkende wyse ná die oorlog begin opstaan.

Ek wonder hoe u grootjie, met die wysheid wat nawete bring, sou gereageer het op die tragiese gebeure van die Anglo-Boereoorlog.

U staan egter buite die konteks van u grootjie se tye. U kan sien wat met my oumagrootjie gebeur het. Al is dit net vir ’n oomblik kan u uself indink hoe dit moes voel om as ’n banneling na Ceylon toe gestuur word terwyl u eggenote en u kinders in ’n konsentrasiekamp moes wees waar u seuntjie, George, met die woorde: “Ek is honger” op sy lippies sterf en die vrees bestaan dat klein Charlotte ook in die kamp kan sterf.

Die vraag is hoekom die hele debat oor die Anglo-Boereoorlog steeds relevant is vir Brittanje en Suid-Afrika.

In Suid-Afrika stoei ons steeds met die vraag oor hoe ’n postkoloniale land lyk. Hierdie debat kan egter nie gevoer word sonder ’n behoorlike begrip van die tydperk van Britse kolonialisasie en die invloed daarvan op die Afrikaner-psige nie.

Ironies genoeg was Afrikaners die stam in Afrika wat ’n antikoloniale oorlog gewen en ’n baie duur prys daarvoor in ’n tweede oorlog betaal het. As ’n direkte gevolg daarvan het ’n “nooit-weer-gevoel-sindroom” onder Afrikaners posgevat wat weer ’n invloed gehad het op die regverdiging van apartheid.

U en ek is albei deel van postkoloniale geslagte. Ons kan terugkyk op die geskiedenis en begrip vir mekaar hê.

Ek wil nie ’n verskoning hê nie. My oumagrootjie se mense het deur innerlike krag uit die smart van die oorlog opgestaan.

Teen hierdie agtergrond wil ek u nooi om Suid-Afrika saam met u gesin te besoek. Kom ons toon onderlinge begrip vir mekaar se geskiedenis binne ’n postkoloniale konteks en debat oor dekolonisasie.

Kom besoek die graf van u grootoom, Christian Victor, en gaan lê ’n krans daar. Ek sal ook ’n krans daar lê. Kom besoek ook die graffie van my grootoom, Petrus, in die Irene-konsentrasiekamp en lê ’n krans daar. Ek sal dit ook doen. Kom ons besoek saam met die Seko-familie die grafte van hul familielede in Bloemfontein en lê ook daar kranse.

ʼn Herbesoek van die oorlog is nodig vir die postkoloniale debat in Suid-Afrika en ter wille van die gewete van Brittanje en die koningshuis. Geslagte met die voordeel van nakennis kan kragtige simboliese dade doen sodat ons nie vergeet nie; sodat ons nie herhaal nie; sodat ons kan bou aan ’n nuwe toekoms.

U kan ’n groot rol daarin speel, want u is nie net ’n toekomstige koning nie; u is ook ’n pa.

Hoogagtend die uwe

Dr. Dirk Hermann

Kraal Uitgewers sal vanaf 15 Desember 2017 tot 8 Januarie 2018 gesluit wees. Dismiss

AfriVriendelik-opleiding

You have Successfully Subscribed!