Van Coller verower Jan H. Maraisprys

PAS BEKEND:  

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het pas aangekondig dat die digter, skrywer en vertaler, prof. Hennie van Coller, medeontvanger van vanjaar se gesogte Jan H. Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal is. Hy deel dié prys met die literatuurwetenskaplike prof. Ina Wolfaardt-Gräbe. Die digbundel, Weerbare weemoed, wat aan die einde van 2020 by Kraal Uitgewers verskyn het, bevat ’n keur uit vier digbundels van die Vlaamse digter Luuk Gruwez en is meesterlik uit Nederlands in Afrikaans vertaal deur Van Coller.

Kraal Uitgewers het sy gelukwensing aan Van Coller oorgedra. Volgens Alana Bailey, uitvoerende hoof van Kraal, is hierdie toekenning aan Van Coller welverdiende erkenning vir sy bydrae tot die skatkis van Afrikaans.

Van Coller is nou reeds die derde Kraal-skrywer of -redakteur om met die Jan H. Maraisprys vereer te word. Prof. Jaap Steyn, die taalhistorikus, digter en skrywer van onder meer die monumentale werk ‘Ons gaan ’n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014) en Verset en opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans (2019) wat by Kraal gepubliseer is, was in 2017 die medeontvanger van die prys. Prof. Fransjohan Pretorius, die gerekende historikus en reeksredakteur van Kraal Uitgewers se Kraal Histories-reeks, is op sy beurt in 2019 met dié toekenning vereer. Drie titels het reeds in die Kraal Histories-reeks verskyn. Die jongste boek in dié reeks is Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog deur Andries Breytenbach.

Volgens die SA Akademie word die Jan H. Maraisprys jaarliks toegeken “as erkenning vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans”. Prysgeld van dié toekenning beloop R500 000.