Vegkop: ’n Dag van genade

Die beeldhouer Coert Steynberg se Voortrekkerbeeld troon oor die landskap van Vegkop.

Deur Ilze Nieuwoudt

Die Slag van Vegkop is in die geskiedenisboeke van die Afrikaner opgeteken as ’n dag van wonderbaarlike redding. Op 16 Oktober 1836 kon die Voortrekkergeselskap van Andries Hendrik Potgieter daarin slaag om met slegs veertig weerbare mans (onder wie sewe seuns) ’n gewelddadige aanval deur tussen 4 000 en 6 000 van Mzilikazi se Ndebele-impies af te weer. Terwyl meer as 400 Ndebeles in die aanval gedood is, is slegs twee sterftes aan die Voortrekkerkant aangeteken. Onmoontlik, sou daar dalk vandag gereken word, maar tog waar.

Teen ’n koppie, sowat 20 km buite die Vrystaatse dorpie Heilbron, dui wit klippe dié historiese terrein aan. Teen die voet van die kop staan daar ’n indrukwekkende Coert Steynberg-skepping van ’n Voortrekkerman wat met sy voorlaaier in die regterhand ’n assegaai afweer. In sy ander hand klou hy ’n Bybel vas. Die grootsheid van dié beeld, met ’n piramide van duisende klippe aan sy voete, getuig van die groot gebeurtenis in die Voortrekkergeskiedenis.

In sy navorsingsartikel oor dié slag lig die historikus M.C. van Zyl in 1986 in die Historia-tydskrif die belangrikheid van Vegkop uit: “Vegkop het vir Transvaal en in ’n mate selfs vir die Vrystaat dieselfde betekenis gehad as Bloedrivier vir Natal.”

Verskeie aanvalle deur die Ndebele op die Voortrekkers het die uiteindelike aanval by Vegkop voorafgegaan, want Mzilikazi wou die Voortrekkers met mening uit die gebied verjaag. Hoewel die presiese datum van die slag volgens bronne verskil, word daar in die algemeen aanvaar dat dit waarskynlik op 20 Oktober 1836 plaasgevind het. Vanjaar sal dus die 183ste herdenking van dié gebeurtenis wees.

Potgieter het ’n Ndebele-aanval op die Trekkers verwag en daarom het die geselskap die nodige voorbereiding vir ’n aanval getref. Volgens Van Zyl is die ligging van die laer perfek gekies. “Dit is getrek op ’n skuinste net ten suide van die langwerpige rant wat later as Vecht Kop bekend sou staan. Vanuit die laer het die verdedigers ’n goeie uitsig oor die uitgestrekte vlakte gehad,” verduidelik hy. Hoewel die koppie self nie ’n rol in die geveg gespeel het nie, meen Van Zyl is dit vooraf as strategiese uitkykpunt gebruik.

Die 51 beskikbare waens is voor die aanval in ’n laer getrek – veertig aan die buitekant en die res in ’n kleiner sirkel in die middel. Die binneste waens het beskutting vir die vroue en kinders gebied en die buitenste sirkel is in ’n bykans ondeurdringbare muur omskep. Die waens is agtermekaar getrek en die voorwiel van die een wa is met kettings en rieme aan die agterwiel van die volgende wa vasgemaak. Die openings tussenin is met doringtakke toegepak.

Die aanloop tot en die aanval self was ’n uiters spanningsvolle ervaring vir die Voortrekkers. Nadat ’n klein groepie mans vroeg die oggend uit die laer getrek het om die aanvallers tegemoet te ry en vir vrede te onderhandel, is hulle egter met teenkanting ontmoet en moes die ruiters al skietende terugry laer toe. Hier het hulle in angs op die koms van die duisende impies gewag. Intussen het Sarel Cilliers ’n kort diens gehou en om beskerming van God gebid.

Die Ndebeles, gewapen met hul steekassegaaie (gewoonlik het elke soldaat sowat ses saamgedra na die oorlogsveld) en werpassegaaie, het intussen na die laer aangestap en begin om van die Voortrekkers se vee, wat buite die laer gewei het, weg te dryf. Volgens Van Zyl “het [dit] nie gelyk of die impi haastig was om aan te val nie. Sommige het hul tyd verwyl deur die lemme van hul assegaaie te slyp.”

Die Voortrekkers het later ’n rooi doek gewaai om die aanvallers uit te lok – die uitdaging is aanvaar. Potgieter het ’n maand ná die aanval aan Erasmus Smit vertel dat ’n “ontelbare menigte, met een helsch alarmgeschreew, slaande op hunne schildvellend als een dondergeluid uit de wolke” op die Voortrekkers afgestorm het. Die Voortrekkers, gewapen met voorlaaiers wat ’n trefkrag van tot 80 meter het, het egter die Ndebeles ’n gevoelige knou toegedien. (’n Militaris het volgens Van Zyl bereken dat elke man minstens vier rondtes per minuut kon afvuur.) Daarenteen het die steekassegaaie soos reën op die Voortrekkers neergedaal.

Die teenkanting was bloot te erg en die aanvallers moes die aftog blaas, maar het wel daarin geslaag om al die Trekkers se vee (100 perde, 5 100 beeste en 50 000 skape) weg te voer. Meer as 1 100 assegaaie is na die slag in die laer opgetel. Nicolaas Potgieter en Pieter Botha is in die aanval gedood terwyl nog sowat 14 steekwonde opgedoen het. Buite die laer het die dooie Ndebeles gesaai gelê – meer as 400 in totaal.

Hoewel die meeste Trekkers die aanval oorleef het, was hulle nie buite gevaar nie, want hul voedselbron was daarmee heen. Hulp het egter uit die oord van die Barolong-opperhoof, Moroka, gekom wat aan die Trekkers trekosse en koeie voorsien het.

Vandag bied die heuwels en randjies by Vegkop die stille getuienis van die onmoontlike oorwinning vir ’n handjievol Voortrekkers.

.