Verfrissende geskiedenis van vrouetydskrif nou op die rak

Die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, Die Boerevrou, het in 1919 die lig gesien. Hoewel uiters gewild onder haar lesers is Die Vroutjie, soos wat die blad in die volksmond bekendgestaan het, weens die finansiële druk van die Depressiejare in 1931 gestaak. Die kultuurhistorikus Jeanette van Rensburg het haar doktorale studie oor dié tydskrif gedoen en bring nou hulde aan Die Boerevrou in dié gedenktydskrif (hier beskikbaar teen R250). Sy bied ’n omvangryke geskiedenis van die tydskrif, sy medewerkers, redakteur (Mabel Malherbe), die medialandskap van die tyd en selfs advertensies wat in die blad geplaas is. Dit is waarskynlik die wyse waarop die geskiedenis aangebied word wat die treffendste komponent van die gedenkbundel is. Op egte Boerevrou-manier is die geskiedenis verpak in elegante tydskrifformaat en -uitleg – ’n ware fees vir die oog.