Vers & Kapittel prikkel ’n mens om die wonder van die digkuns te herontdek

Deur Karin Heydenrych

Vers & Kapittel: Artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns deur Daniel Hugo het vroeër vanjaar by Kraal Uitgewers verskyn. Dit is op 17 Mei 2018 by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekend gestel. Die bundel bevat hoogtepunte uit die werk van Hugo as literêre kritikus. 

Hugo, self ’n meester van die vernufpoësie en speelse verse, skryf op ’n onderhoudende en uiters toeganklike manier oor die internasionale wêreld van die digkuns. Daar word verwys na sekere bekende gedigte en prominente Afrikaanse digters en skrywers, soos N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, J.C. Steyn, I.L. de Villiers en Hennie Aucamp.

Hugo het hoofsaaklik in Windhoek grootgeword en meen dit was eintlik sy ma wat sy leeslus aangewakker het. Daarom was die stadsbiblioteek ook sy gunstelinggebou. Ná skool het hy aan die Universiteit Stellenbosch studeer waar hy veral onder die leiding van D.J. Opperman sy liefde vir die letterkunde verder ontwikkel het. Hy gee ook erkenning aan die Nederlandse digter, bloemleser, essayis, vertaler en “literêre genie” Gerrit Komrij, wat saam met Opperman hom geleer het hoe om gedigte deeglik te lees en te waardeer.

Hierdie skrywer, digter en vertaler is uitgesproke oor sommige akademici wat dikwels te behep is met literêre teorie. “Ek dink ’n mens kan ’n literêre teks met insig lees sonder enige teoretiese ondersteuning. Al wat jy nodig het is gesonde verstand en belesenheid.” Hy moedig lesers aan om meer gedigte te lees, en digbundels te koop of by ’n biblioteek uit te neem. “’n Gedig neem jou altyd op ’n avontuurtog in die taal waarin jy dit lees.”

Hugo is ook ’n boeksnuffelaar met ’n voorliefde vir tweedehandseboekwinkels. ’n Mens voel sommer sy opwinding aan wanneer hy in die bundel vertel van ’n besonderse boek wat hy ná ’n lang soektog opspoor!

In 2017 het Hugo sy volledige letterkundige dokumenteversameling sedert die 1980’s aan Akademia, die Afrikaanse hoëropleidingsinstelling van die Solidariteit Beweging, geskenk. Hy meen dat dit daar beter bewaar sal word as by die Universiteit Stellenbosch.

Vers & Kapittel: Artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns deur Daniel Hugo kos R200 en kan bestel word by www.kraaluitgewers.co.za

 

Let asseblief dat bestellings via die SA Poskantoor gestuur tans vertraag word as gevolg van 'n staking Dismiss