Vier geskiedkundige plekke wat mens in Suid-Afrika net móét sien – Slagvelde en konsentrasiekampterreine

As jy die “geskiedkundige” hart van Suid-Afrika wil vóél klop en jou erfenis hierdie erfenismaand wil herontdek, is daar ’n paar plekke waarby jy minstens een keer moet afdraai. Ons stel jou oor die volgende paar weke aan dié erfenisbakens bekend. Kom reis saam!

  1. Slagvelde van die Vryheidsoorloë en konsentrasiekampterreine

Hoewel daar in meeste gevalle nie veel oor is om by die slagvelde van die Vryheidsoorloë te sien nie, vertel die oop ruimtes telkens ’n meer treffende storie as wat museums en boeke ooit sal kan. Deur net ’n bietjie oor die slagte op te lees en jouself vooraf te vergewis van die omstandighede van die slagveld, ligging waar watter groepe hulleself bevind het, kry ’n bykans barre terrein weer lewe.

Waarskynlik die treffendste element van konsentrasiekampterreine (waarvan tientalle regoor Suid-Afrika te vinde is), is die naamlyste wat die sterftes aandui. Doen gerus navorsing om te bepaal of jou voorouers in enige van dié kampe van die Anglo-Boereoorlog aangehou is voordat jy kies watter een om te besoek. Die wete dat een van jou voorouers op dieselfde plek was, sal die besoek meer spesiaal en persoonlik maak.

Voeg gerus dié plekke op jou lys: Magersfontein-slagveld en -museum buite Kimberley, die Majuba-slagveld suid van Volksrust en die Irene-konsentrasiekampterrein in Centurion.