Vlugtelinge na ’n nuwe land

Deur Ilze Nieuwoudt

Die koms van nagenoeg 300 Franse Hugenote na die Kaap in die laat 1680’s word vandag dikwels geromantiseer. Die idee van wyn, die elegante klanke van die Franse taal en die gekultiveerde Franse in die asemrowende skoonheid van die Drakenstein-streek in die Kaap, kan ons met ’n hedendaagse perspektief met jaloesie en romanse vul. Die werklikheid was egter glad nie so rooskleurig nie. Ilze Nieuwoudt stel ondersoek in.

Meer as 200 000 Franse Hugenote het gedurende die 1600’s en 1700’s uit Frankryk gevlug. Sowat 300 hiervan het aan die suidpunt van Afrika ’n heenkome gevind en ’n noemenswaardige deel (naamlik ’n vyfde) van die destydse Europese bevolking aan die Kaap gevorm. Die meerderheid van die Hugenote het egter na lande soos Amerika, Nederland en Engeland gevlug.

Hoekom vlug?

Die Hugenote het reeds sedert die 1500’s ernstige vervolging in hul vaderland beleef. Hulle het die Protestantse geloof aangehang, en is daarom deur die Rooms-Katolieke heersers veroordeel en vervolg. Massamoorde is op volgelinge van die Protestantse geloof uitgevoer – in 1562 is 1 200 Hugenote vermoor in Vassy, Frankryk, waarna verskeie soortgelyke aanvalle sou volg. In een uiters brutale aanval, die St. Bartolomeusnag-slagting, in Augustus 1572 is meer as 8 000 Hugenote vermoor.   

Teen 1598 is die Edik van Nantes onderteken en is die dekades lange stryd teen die Franse Protestante vir eers laat vaar. Die edik het aan die Hugenote meer geloofsvryheid gegee en hulle toegelaat om hul geloof in spesifieke stede te beoefen. Tog was die vrede van korte duur en onderdrukking is hervat. In Oktober 1685 het die Franse koning Lodewyk XIV die Edik van Nantes herroep waarna grootskaalse aanvalle op Hugenote hervat is. Volgens die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika is dié gelowiges se kerke en huise afgebrand, en hul Bybels en liedboeke vernietig. Talle Hugenote is na die brandstapels gestuur, terwyl ander as slawe op galeie moes werk, of as slawe na die Wes-Indiese Eilande verban is. In talle gevalle is die kinders uit Hugenote-huishoudings verwyder en by Rooms-Katolieke ouers geplaas of deur Katolieke monnike en nonne opgevoed.

Hugenote aan die Kaap

Drie jaar ná die herroeping van die Edik van Nantes kom die eerste georganiseerde groep Franse Hugenote in 1688 aan boord die Oosterland en die Voorschoten in die Kaap aan. Hulle was egter nie die eerste Hugenote wat hul permanent aan die Kaap kom vestig het nie. Francois Villion (tans bekend as Viljoen) het in 1671 na die Kaap gekom, terwyl Jean de Long (tans bekend as De Lange) en sy gesin in 1685 en die Guillaume-broers en Francois du Toit in 1686 hierheen gevlug het. 

Die Hugenote is aan die Kaap verwelkom, juis aangesien hul geloof met dié van die Nederlanders wat reeds hier gevestig was, ooreengestem het en aangesien hulle oor landboukennis beskik het. H.C. Viljoen van die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika skryf dat die Hugenote aangemoedig is om koring te verbou en met skape te boer. Wynverbouing het wel ’n groot deel van die nalatenskap van die Franse Hugenote geword.

Teen 1729 het 279 Franse en hul nasate aan die Kaap gewoon. Die meerderheid van dié vlugtelinge is in Franschhoek en Drakenstein (die teenswoordige Paarl) gevestig. Hulle is volgens die historici Hermann Giliomee en Bernard Mbenga (in die boek Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika) aangemoedig om met die ander vryburgers te assimileer. Die plaaslike taal en kultuur is spoedig aangeleer en kort voor lank het die Franse taal heeltemal onder die nasate van die Hugenote uitgesterf. “[T]een 1750 kon niemand jonger as 40 nog Frans praat nie,” luidens Giliomee en Mbenga. 

Hugenote in 2020

Talle families, veral Afrikaner-families, kan vandag nog hul skakel met die Franse Hugenote naspoor. Die bekendste Hugenote-families sluit onder meer in De Villiers, Malan, Du Toit, Du Preez en Du Plessis. Dit is interessant om daarop te let dat dié familiename met tyd verafrikaans is, en soms net-net ooreenstem met die oorspronklike Franse vanne. Vergelyk byvoorbeeld die verandering in die skryfwyse van volgende bekende Hugenote-vanne:

  • Bruère – Bruwer
  • Du Plessey – Du Plessis
  • Dutoit – Du Toit
  • Mesnard – Minnaar
  • Pinard – Pinaar

Besoek gerus www.hugenoot.org.za vir meer inligting oor Hugenote-voorouers en ’n databasis van Hugenote wat na Suid-Afrika gevlug het.